Toe het die HERE vir my gesê: Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as ’n besitting gegee het. ... en jy sal kom in die nabyheid van die kinders van Ammon; behandel hulle nie as vyande en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van die kinders van Ammon se land as besitting gee nie, omdat Ek dit aan die kinders van Lot as besitting gegee het.
EN die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, en hulle het die Baäls en die Astartes gedien, en die gode van Aram en die gode van Sidon en die gode van Moab en die gode van die kinders van Ammon en die gode van die Filistyne, en hulle het die HERE verlaat en Hom nie gedien nie. Daarom het die toorn van die HERE ontvlam teen Israel, en Hy het hulle verkoop in die hand van die Filistyne en in die hand van die kinders van Ammon. En hulle het die kinders van Israel verpletter en verdruk in daardie jaar, agttien jaar lank, al die kinders van Israel wat oorkant die Jordaan gewoon het in die land van die Amoriete, wat in Gílead was. Daarby het die kinders van Ammon die Jordaan oorgetrek om ook teen Juda en Benjamin en die huis van Efraim te veg, sodat Israel dit baie benoud gehad het. Toe roep die kinders van Israel die HERE aan en sê: Ons het teen U gesondig, want ons het onse God verlaat en die Baäls gedien. Maar die HERE het aan die kinders van Israel gesê: Het Ek julle nie van die Egiptenaars en van die Amoriete, van die kinders van Ammon en van die Filistyne — en toe die Sidoniërs en Amalekiete en Maoniete julle verdruk en julle My aangeroep het—julle uit hulle hand verlos nie? Maar julle het My verlaat en ander gode gedien; daarom sal Ek julle nie meer verlos nie. Gaan heen en roep die gode aan wat julle verkies het; laat dié julle verlos in die tyd van julle benoudheid. Toe sê die kinders van Israel aan die HERE: Ons het gesondig; maak met ons net soos dit goed is in u oë; verlos ons tog net vandag. En hulle het die vreemde gode uit hul midde verwyder en die HERE gedien; toe het Hy ongeduldig geword oor die moeite van Israel. En die kinders van Ammon is byeengeroep en het laer opgeslaan in Gílead; maar die kinders van Israel het bymekaargekom en laer opgeslaan by Mispa. Toe sê die manskappe, die vorste van Gílead, die een aan die ander: Wie is die man wat sal begin om te veg teen die kinders van Ammon? Hy sal hoof wees oor al die inwoners van Gílead.
EN Jefta, die Gileadiet, was ’n dapper held, maar hy was die seun van ’n hoer; en Gílead was die vader van Jefta. En toe die vrou van Gílead vir hom seuns baar, en die seuns van die vrou groot word, het hulle Jefta weggejaag en vir hom gesê: Jy mag in ons familie nie erwe nie, want jy is die seun van ’n ander vrou. Daarop vlug Jefta van sy broers af weg en hy gaan woon in die land Tob; en ligsinnige manne het by Jefta aangesluit en saam met hom uitgetrek. En ’n tyd daarna het die kinders van Ammon oorlog gevoer teen Israel. Maar toe die kinders van Ammon oorlog voer teen Israel, het die oudstes van Gílead Jefta gaan haal uit die land Tob; en hulle het vir Jefta gesê: Kom en wees ons aanvoerder, dat ons kan veg teen die kinders van Ammon. Maar Jefta antwoord die oudstes van Gílead: Het julle my nie gehaat en my uit my vader se huis weggejaag nie? Waarom kom julle dan nou na my, nou dat julle in die benoudheid sit? Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Daarom kom ons nou na jou terug, dat jy met ons kan saamtrek en teen die kinders van Ammon veg, en dat jy ons hoof kan wees oor al die inwoners van Gílead. Daarop antwoord Jefta die oudstes van Gílead: As julle my laat terugkom om teen die kinders van Ammon te veg en die HERE hulle aan my oorgee, dan moet ek julle hoof word. Toe sê die oudstes van Gílead vir Jefta: Die HERE sal hoorder wees tussen ons. Waarlik, soos jy gesê het, so sal ons doen. So het Jefta dan met die oudstes van Gílead saamgegaan, en die volk het hom as hoof en aanvoerder oor hulle aangestel, en Jefta het al sy woorde voor die aangesig van die HERE in Mispa gespreek. Toe stuur Jefta boodskappers na die koning van die kinders van Ammon om te vra: Wat het ek met u te doen, dat u na my kom om teen my land te veg? En die koning van die kinders van Ammon sê aan die boodskappers van Jefta: Israel het my land geneem toe hy opgetrek het uit Egipte, van die Arnon af tot by die Jabbok en tot by die Jordaan; gee dit dan nou in vrede terug. En Jefta het nog weer boodskappers gestuur na die koning van die kinders van Ammon en vir hom gesê: So sê Jefta: Israel het die land Moab en die land van die kinders van Ammon nie geneem nie. Want Israel het toe hy uit Egipte opgetrek het, deur die woestyn gegaan tot by die Skelfsee en het by Kades gekom. En Israel het boodskappers gestuur na die koning van Edom om te sê: Laat my tog deur u land trek; maar die koning van Edom het geen gehoor gegee nie; en na die koning van Moab het hy gestuur, maar hy wou ook nie. Daarom het Israel in Kades gebly. Verder het hy deur die woestyn gegaan en om die land Edom en die land Moab getrek en gekom aan die oostekant van die land Moab; en hulle het laer opgeslaan oorkant die Arnon, maar nie in die gebied van Moab ingekom nie, want die Arnon is die grens van Moab. Daarop het Israel boodskappers gestuur na Sihon, die koning van die Amoriete, die koning van Hesbon, en Israel het vir hom gesê: Laat ons tog deur u land trek na my plek toe. Maar Sihon het Israel nie vertrou om deur sy gebied te trek nie, en Sihon het al sy manskappe versamel, en hulle het laer opgeslaan in Jahas en teen Israel geveg. Maar die HERE, die God van Israel, het Sihon en sy hele volk in die hand van Israel gegee, en dié het hulle verslaan; sodat Israel die hele land van die Amoriete, die inwoners van daardie land, in besit geneem het. En hulle het die hele grondgebied van die Amoriete, van die Arnon af tot by die Jabbok en van die woestyn af tot by die Jordaan, in besit geneem. So het die HERE, die God van Israel, dan die Amoriete voor sy volk Israel uit verdrywe, en wil u dit in besit neem? Sal u dit nie in besit neem wat u god Kamos u as ’n besitting gee, en óns alles wat die HERE onse God voor ons uit verdrywe, in besit neem nie? En is u nou soveel beter as Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab? Het hy ooit met Israel getwis, of ooit teen hulle geveg? Terwyl Israel in Hesbon met sy onderhorige plekke en in Ároër met sy onderhorige plekke en in al die stede wat langs die Arnon lê, driehonderd jaar lank gewoon het, waarom het julle dit dan nie in dié tyd ontset nie? So het ék dan nie teen u gesondig nie, maar ú handel so sleg met my om teen my oorlog te voer. Mag die HERE, die Regter, vandag oordeel tussen die kinders van Israel en die kinders van Ammon! Maar die koning van die kinders van Ammon het nie geluister na die woorde van Jefta wat hy hom laat weet het nie. Toe het die Gees van die HERE op Jefta gekom, en hy het oorgetrek na Gílead en Manasse en verder deur na Mispe in Gílead; en van Mispe in Gílead het hy deurgetrek na die kinders van Ammon. En Jefta het aan die HERE ’n gelofte gedoen en gesê: As U werklik die kinders van Ammon in my hand gee, dan sal wat uitkom, wat uit die deure van my huis uitkom my tegemoet, as ek in vrede terugkom van die kinders van Ammon, aan die HERE behoort, en ek sal dit as ’n brandoffer bring. Daarop het Jefta deurgetrek na die kinders van Ammon om teen hulle te veg, en die HERE het hulle in sy hand gegee. En hy het hulle verslaan van Ároër af in die rigting na Minnit, twintig stede, en tot by Abel-Kerámim—’n baie groot slag; sodat die kinders van Ammon verneder is voor die kinders van Israel. En toe Jefta in Mispa by sy huis kom, gaan sy dogter juis uit hom tegemoet met tamboeryne en koordanse; en sy was die enigste kind: hy het geen seun of dogter buiten haar gehad nie. En net toe hy haar sien, skeur hy sy klere en sê: Ag, my dogter, jy druk my heeltemal neer, en jý stort my in die ongeluk! Want ek het my mond geopen teenoor die HERE, en ek kan nie terugtrek nie. En sy antwoord hom: My vader, as u u mond geopen het teenoor die HERE, maak met my soos uit u mond uitgegaan het nadat die HERE u volkome wraak verskaf het op u vyande, op die kinders van Ammon. Verder het sy vir haar vader gesê: Laat dít my toegestaan word: laat my twee maande vry, dat ek kan weggaan en afdaal na die berge en my maagdelike staat beween, ek en my vriendinne. En hy sê: Gaan! En hy het haar vir twee maande laat gaan. Sy het toe weggegaan met haar vriendinne en haar maagdelike staat op die berge beween. En aan die end van twee maande het sy na haar vader teruggekom, en hy het die gelofte wat deur hom gedoen is, aan haar voltrek; en sy het geen man beken nie. En dit het ’n gewoonte geword in Israel dat die dogters van Israel jaar vir jaar heengaan om die dogter van Jefta, die Gileadiet, te besing, vier dae in die jaar.
EN Nahas, die Ammoniet, het opgetrek en Jabes in Gílead beleër; en al die manne van Jabes het aan Nahas gesê: Sluit met ons ’n verbond, dan sal ons u dien. Maar Nahas, die Ammoniet, het vir hulle gesê: Op hierdie voorwaarde sal ek die verbond met julle sluit, dat ek julle almal die regteroog uitsteek en dit as ’n skande op die hele Israel kan lê. Toe sê die oudstes van Jabes vir hom: Laat ons sewe dae lank met rus, dat ons boodskappers in die hele gebied van Israel kan stuur; as daar dan niemand is wat ons verlos nie, sal ons na u toe uittrek. En die boodskappers het in Gíbea van Saul gekom en die woorde voor die ore van die volk gespreek. Daarop verhef die hele volk hulle stem en ween. Toe kom Saul juis aan agter die beeste van die veld af, en Saul sê: Wat is dit met die volk, dat hulle ween? En hulle vertel hom die woorde van die manne van Jabes. En die Gees van God het oor Saul vaardig geword terwyl hy dié woorde hoor, en hy het baie kwaad geword. En hy het ’n paar beeste geneem en hulle stukkend gesny en met boodskappers deur die hele gebied van Israel gestuur om te sê: Wie nie agter Saul en agter Samuel aan uittrek nie—so sal met sy beeste gedoen word. Toe val die skrik van die HERE op die volk en hulle trek soos een man uit. En hy het hulle gemonster in Besek: die kinders van Israel was driehonderdduisend en die manne van Juda dertigduisend. En hulle het aan die boodskappers wat gekom het, gesê: So moet julle aan die manne van Jabes in Gílead sê: Môre as die son op sy warmste is, sal julle hulp kry. Toe die boodskappers ingaan en dit aan die manne van Jabes meedeel, was hulle bly. En die manne van Jabes sê: Môre sal ons na julle uittrek, en julle kan met ons doen net soos dit goed is in julle oë. Maar die volgende môre het Saul die manskappe in drie afdelings opgestel, en hulle het met die môrewag in die laer ingekom en die Ammoniete verslaan tot op die warmste van die dag; en die ander het so verstrooid geraak dat nie twee onder hulle bymekaar gebly het nie. Daarna sê die manskappe vir Samuel: Wie is dit wat gevra het: Sou Saul oor ons regeer? Lewer die manne uit, dat ons hulle kan doodmaak. Maar Saul antwoord: Op hierdie dag mag geen man gedood word nie, want vandag het die HERE ’n verlossing in Israel bewerk. Toe sê Samuel aan die volk: Kom, laat ons na Gilgal gaan en daar die koningskap vernuwe. En die hele volk het na Gilgal getrek en daar Saul voor die aangesig van die HERE in Gilgal koning gemaak; en hulle het daar dankoffers voor die aangesig van die HERE geslag, en Saul met al die manne van Israel was daar uitermate vrolik.
EN daarna het die koning van die kinders van Ammon gesterwe, en sy seun Hanun het in sy plek koning geword. Toe sê Dawid: Ek wil guns bewys aan Hanun, die seun van Nahas, soos sy vader aan my guns bewys het. Daarom het Dawid gestuur om hom deur sy dienaars oor sy vader te troos. Toe die dienaars van Dawid dan in die land van die kinders van Ammon kom, het die vorste van die kinders van Ammon aan Hanun, hulle heer, gesê: Eer Dawid u vader in u oë, omdat hy vir u troosters gestuur het? Het Dawid nie sy dienaars na u gestuur om die stad te deursoek en dit te verken en dit om te keer nie? Daarop neem Hanun die dienaars van Dawid en skeer die een helfte van hulle baard af en sny hulle klere in die helfte af, tot by hulle sitplekke; en hy het hulle laat gaan. En toe hulle aan Dawid hiervan berig bring, stuur hy om hulle tegemoet te gaan, want die manne was baie skaam. En die koning het gesê: Bly in Jérigo totdat julle baard weer gegroei het; kom dan terug. Toe die kinders van Ammon sien dat hulle hul gehaat gemaak het by Dawid, het die kinders van Ammon gestuur en die Arameërs van Bet-Rehob en die Arameërs van Soba gehuur, twintigduisend voetgangers, en van die koning van Máäga, duisend man, en die manne van Tob, twaalfduisend man. En Dawid het dit gehoor en Joab met die hele leër, die helde, gestuur. En die kinders van Ammon het uitgetrek en die slagorde opgestel by die ingang van die poort, terwyl die Arameërs van Soba en Rehob en die manne van Tob en Máäga afsonderlik in die veld was. Toe Joab sien dat ’n aanval van voor sowel as van agter hom bedreig, het hy uit al die uitgesoektes in Israel ’n keuse gedoen en hulle opgestel teenoor die Arameërs. Maar die ander manskappe het hy onder bevel van sy broer Abísai geplaas en dié het hulle opgestel teenoor die kinders van Ammon. En hy het gesê: As die Arameërs vir my te sterk word, moet jy my te hulp kom, en as die kinders van Ammon vir jou te sterk word, sal ek kom om jou te help. Wees sterk en laat ons ons sterk hou vir ons volk en vir die stede van onse God. Mag die HERE dan doen wat goed is in sy oë! Daarop het Joab en die manskappe wat by hom was, nader gekom om teen die Arameërs te veg, en hulle het vir hom gevlug. Toe die kinders van Ammon sien dat die Arameërs vlug, het hulle ook vir Abísai gevlug en die stad ingegaan. En Joab het van die kinders van Ammon af omgedraai en in Jerusalem aangekom. Toe die Arameërs dan sien dat hulle voor Israel verslaan was, het hulle dig aaneengesluit. Ja, Hadaréser het gestuur en die Arameërs van oorkant die Eufraat laat uittrek, en hulle het in Helam aangekom, met Sobag, die leërowerste van Hadaréser, op hulle voorpunt. Intussen het Dawid daarvan berig gekry en die hele Israel versamel en deur die Jordaan getrek en in Helam aangekom; en die Arameërs het hulle teenoor Dawid opgestel en teen hom geveg. Maar die Arameërs het vir Israel gevlug, en Dawid het van die Arameërs sewehonderd trekperde en veertigduisend ruiters gedood, en Sobag, die leërowerste, so gewond, dat hy daar gesterf het. En toe al die onderhorige konings van Hadaréser sien dat hulle voor Israel verslaan was, het hulle met Israel vrede gesluit en hulle gedien; en die Arameërs was bevrees om die kinders van Ammon langer te help.
OP dié dag is daar voor die ore van die volk voorgelees uit die boek van Moses, en daarin het geskrywe gestaan dat geen Ammoniet of Moabiet tot in ewigheid in die vergadering van God mag kom nie, omdat hulle die kinders van Israel nie teëgekom het met brood en water nie, en Bíleam teen hulle gehuur het om hulle te vervloek; maar onse God het die vloek in ’n seën verander. En toe hulle die wet hoor, het hulle al die mense van gemengde bloed uit Israel afgesonder. ... In dié dae het ek ook Jode gesien wat Asdodiese, Ammonitiese, Moabitiese vroue getrou het. En van hulle kinders het die helfte Asdodies gepraat, of die taal van watter volk ook al; maar hulle kon geen Joods praat nie. Daarom het ek met hulle getwis en hulle gevloek, en sommige van hulle geslaan en die hare uitgepluk en hulle by God besweer: Julle mag julle dogters nie aan hulle seuns gee, en julle mag nie van hulle dogters vir julle seuns of vir julleself neem nie! Het Salomo, die koning van Israel, nie deur hulle gesondig nie? Alhoewel daar onder baie nasies nie ’n koning gewees het soos hy nie en hy ’n liefling van sy God was, sodat God hom as koning aangestel het oor die hele Israel, het die vreemde vroue hom tog sonde laat doen. Moet ons nou van julle hoor dat julle al hierdie groot kwaad doen, om ontrou te handel teen God deur vreemde vroue te trou? En een van die seuns van Jójada, die seun van die hoëpriester Éljasib, was ’n skoonseun van Sanbállat, die Horoniet; daarom het ek hom van my af weggeja.
Hulle sê: Kom, laat ons hulle vernietig, dat hulle geen volk meer is nie, sodat aan die naam van Israel nie meer gedink word nie. Want hulle het van harte saam raad gehou; teen U sluit hulle ’n verbond: die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Ámalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus. Ook het Assur by hulle aangesluit; hulle is ’n arm vir die kinders van Lot. Sela.
Maar hulle sal die Filistyne op die skouer vlieg teen die weste en saam die kinders van die Ooste plunder; Edom en Moab is die buit van hulle hand, en die kinders van Ammon is hulle onderdanig.
Daarom, so waar as Ek leef, spreek die HERE van die leërskare, die God van Israel: Moab sal word soos Sodom en die kinders van Ammon soos Gomorra—’n veld van brandnekels en soutpanne en ’n verwoesting vir ewig; die oorblyfsel van my volk sal hulle berowe, en die res van my nasie sal hulle beërwe.