Wee jou, Moab! Jy is verlore, volk van Kamos! Hy het sy seuns prysgegee as vlugtelinge, en sy dogters in gevangenskap, aan Sihon, die koning van die Amoriete.
DAARNA het die kinders van Israel weggetrek en laer opgeslaan in die vlaktes van Moab, oos van die Jordaan van Jérigo. Toe Balak, die seun van Sippor, sien alles wat Israel die Amoriete aangedoen het, het Moab baie bang geword vir die volk, want hulle was talryk; en Moab het beangs geword vanweë die kinders van Israel. Toe sê Moab vir die oudstes van Mídian: Nou sal hierdie menigte opeet alles wat rondom ons is, soos ’n bees die groenigheid van die veld opeet. En Balak, die seun van Sippor, was dié tyd koning van Moab. Daarop het hy boodskappers gestuur na Bíleam, die seun van Beor, in Petor wat by die Eufraat is, in die land van die kinders van sy volk, om hom te roep en te sê: Kyk, daar het ’n volk uit Egipte getrek; kyk, hulle het die oppervlakte van die land oordek en staan gelaer teenoor my. Kom dan tog nou, vervloek hierdie volk vir my, want hulle is magtiger as ek. Miskien sal ek onder hulle ’n slag kan slaan en hulle uit die land verdrywe. Want ek weet, die een wat jy seën, is geseënd; en die een wat jy vervloek, is vervloek. Toe het die oudstes van Moab en die oudstes van Mídian gegaan met waarsêersloon by hulle en by Bíleam gekom en hom die woorde van Balak meegedeel. Daarop antwoord hy hulle: Bly vannag hier oor; dan sal ek julle berig bring soos die HERE aan my sal sê. Toe het die vorste van Moab by Bíleam gebly. En God het na Bíleam gekom en gesê: Wie is die manne daar by jou? En Bíleam het God geantwoord: Balak, die seun van Sippor, die koning van Moab, laat my weet: Kyk, daar het ’n volk uit Egipte getrek en hulle het die oppervlakte van die land oordek. Kom nou, vervloek hulle vir my; miskien sal ek hulle kan beveg en hulle verdrywe. Toe sê God vir Bíleam: Jy mag nie saam met hulle trek nie, jy mag die volk nie vloek nie, want hulle is geseënd. Toe staan Bíleam die môre op, en hy sê aan die vorste van Balak: Gaan na julle land, want die HERE het geweier om my saam met julle te laat gaan. En die vorste van Moab het klaargemaak en by Balak gekom en gesê: Bíleam het geweier om saam met ons te gaan. Daarop stuur Balak nog weer vorste wat meer en aansienliker was as die ander; en hulle het by Bíleam gekom en aan hom gesê: So spreek Balak, die seun van Sippor: Laat jou tog nie terughou om na my te kom nie. Want ek sal jou baie hoog vereer en alles wat jy my sê, sal ek doen; daarom kom tog, vervloek hierdie volk vir my. Toe antwoord Bíleam en sê aan die dienaars van Balak: Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek kan die bevel van die HERE my God nie oortree om klein of groot te doen nie. Nou dan, bly julle tog ook vannag hier, dat ek mag weet wat die HERE verder aan my sal sê. En God het in die nag na Bíleam gekom en aan hom gesê: As die manne gekom het om jou te roep, staan dan op, gaan met hulle saam; maar net wat Ek jou sê, dit moet jy doen. Toe maak Bíleam die môre klaar en saal sy eselin op, en hy het weggetrek saam met die vorste van Moab. Maar die toorn van God het ontvlam, omdat hy weggetrek het; en die Engel van die HERE het gaan staan in die pad as sy teëparty, terwyl hy op sy esel ry en sy twee dienaars by hom was. En die esel het die Engel van die HERE in die pad sien staan, met sy ontblote swaard in sy hand; daarom het die esel uit die pad uitgedraai en die veld ingeloop. Maar Bíleam het die esel geslaan om haar na die pad te stuur. Daarom gaan die Engel van die HERE in ’n hol pad tussen die wingerde staan—’n muur duskant en ’n muur anderkant. En toe die esel die Engel van die HERE sien, druk sy haarself teen die muur en druk ook Bíleam se voet teen die muur; daarom het hy haar weer geslaan. En die Engel van die HERE het weer verder gegaan en bly staan op ’n nou plek waar geen pad was om regs of links uit te draai nie. Toe die esel die Engel van die HERE sien, gaan sy onder Bíleam lê. Daarop het Bíleam baie kwaad geword en die esel met ’n stok geslaan. Maar die HERE het die bek van die esel geopen, en sy sê vir Bíleam: Wat het ek jou gedoen, dat jy my nou al drie maal geslaan het? Daarop antwoord Bíleam die esel: Omdat jy die spot met my drywe. Was daar net ’n swaard in my hand—dan het ek jou sekerlik doodgeslaan. En die esel sê vir Bíleam: Is ek nie jou esel waar jy jou lewe lank op gery het tot vandag toe nie? Was dit ooit my gewoonte om so met jou te doen? En hy antwoord: Nee. Toe open die HERE die oë van Bíleam, sodat hy die Engel van die HERE in die pad sien staan met sy ontblote swaard in sy hand, en hy het gebuig en op sy aangesig neergeval. En die Engel van die HERE vra hom: Waarom het jy jou esel nou al drie maal geslaan? Kyk, Ek self het uitgegaan as ’n teëparty, want jou weg loop gevaarlik steil in my oog! Maar die esel het My gesien en nou al drie maal voor My uitgedraai. As sy nie voor My uitgedraai het nie—dan het Ek jou alte seker gedood en haar laat lewe. Toe antwoord Bíleam die Engel van die HERE: Ek het gesondig, want ek het nie geweet dat U teenoor my in die pad gestaan het nie. Maar nou, as dit verkeerd is in u oë, sal ek teruggaan. En die Engel van die HERE sê vir Bíleam: Gaan saam met die manne, maar net die woord wat Ek jou sê, dit moet jy spreek. So het Bíleam dan met die vorste van Balak saamgegaan. Toe Balak hoor dat Bíleam kom, het hy uitgetrek hom tegemoet na Ir-Moab wat by die grens van die Arnon lê, by die uiteinde van die grondgebied. En Balak sê vir Bíleam: Het ek nie herhaaldelik na jou gestuur om jou te laat roep nie? Waarom het jy nie na my gekom nie? Is ek werklik nie in staat om jou te vereer nie? En Bíleam het Balak geantwoord: Hier het ek na jou gekom. Is ek nou wel in staat om iets te spreek? Die woord wat God in my mond lê, dit sal ek spreek. Bíleam het toe saam met Balak gegaan, en hulle het by Kirjat-Husot gekom. En Balak het beeste en kleinvee geoffer en daarvan aan Bíleam gestuur en aan die vorste wat by hom was. En in die môre het Balak Bíleam geneem en hom op die hoogtes van Baäl laat opklim vanwaar hy die kant van die volk kon sien.
TOE Bíleam sien dat dit goed was in die oë van die HERE om Israel te seën, het hy hom nie soos die vorige kere tot towery gewend nie, maar sy gesig na die woestyn gedraai. Toe Bíleam sy oë opslaan en Israel sien soos hy volgens sy stamme in die laer staan, het die Gees van God op hom gekom. En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en die man met geopende oog spreek. Die hoorder van die woorde van God spreek, hy wat die gesigte van die Almagtige sien, wat neerval en geopende oë het. Hoe mooi is jou tente, o Jakob, jou wonings, o Israel! Soos dale met waterlope wat hulle ver uitstrek, soos tuine by ’n rivier, soos alewees wat die HERE geplant het, soos seders by die water. Water vloei uit sy emmers, en sy saad is by baie waters. En laat sy koning hoër wees as Agag, en sy koninkryk hom verhef! God wat hom uit Egipte uitgelei het, is vir hom soos die horings van ’n buffel; hy sal nasies, sy vyande, verteer en hulle gebeente stukkend breek en met sy pyle verbrysel. Hy buig hom, hy gaan lê soos ’n leeu en soos ’n leeuin: wie sal hom opjaag? Geseënd is hulle wat jou seën, en vervloek is hulle wat jou vervloek! Toe het Balak baie kwaad geword vir Bíleam en sy hande saamgeslaan, en Balak het aan Bíleam gesê: Ek het jou laat roep om my vyande te vloek, en kyk, jy het nou al drie maal net geseën! Trek dan nou gou na jou woonplek! Ek het gesê dat ek jou hoog sal vereer; maar kyk, die HERE het jou van verering teruggehou. Toe het Bíleam vir Balak gesê: Het ek nie alreeds met jou boodskappers wat jy na my gestuur het, gespreek en gesê nie: Al gee Balak my sy huis vol silwer en goud, ek kan die bevel van die HERE nie oortree om goed of kwaad uit my eie hart te doen nie; wat die HERE spreek, dit sal ek spreek. En nou, kyk, ek gaan na my volk toe. Kom, ek sal jou inligting gee, wat hierdie volk jou volk sal aandoen aan die einde van die dae. Toe het hy sy spreuk aangehef en gesê: Bíleam, die seun van Beor, spreek, en die man met geopende oog spreek. Die hoorder van die woorde van God spreek, en hy wat die wetenskap van die Allerhoogste ken, wat die gesigte van die Almagtige sien, wat neerval en geopende oë het. Ek sien hom, maar nie nou nie, ek aanskou hom, maar nie naby nie; ’n ster kom te voorskyn uit Jakob, en ’n septer kom uit Israel op, en hy verbrysel die slape van die hoof van Moab en werp al die oorlogsugtiges omver. Ook sal Edom ’n besitting wees; en Seïr, sy vyande, sal ’n besitting wees, maar Israel neem toe in krag. En laat daar een uit Jakob heers en die vrygeraaktes uit die stede vernietig. Toe hy Ámalek sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Ámalek is die eersteling van die heidene, maar sy einde is ondergang. Toe hy die Keniete sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Jou woonplek is vas, en jou nes is gebou op die rots. Ewenwel sal Kain tot verwoesting wees. Hoe lank nog? Assur sal jou as gevangene wegvoer. Verder het hy sy spreuk aangehef en gesê: Wee, wie sal lewe as God dít beskik? En skepe kom van die kant van die Kittiërs af, en hulle verneder Assur en hulle verneder Heber; en hy is ook tot ondergang bestem. Toe het Bíleam hom klaargemaak en weggetrek en na sy woonplek teruggekeer. En Balak het ook sy koers gegaan.
Toe het die HERE vir my gesê: Behandel Moab nie as vyand en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van sy land as besitting gee nie, omdat Ek Ar aan die kinders van Lot as ’n besitting gegee het. ... en jy sal kom in die nabyheid van die kinders van Ammon; behandel hulle nie as vyande en begeef jou nie in die oorlog teen hulle nie; want Ek sal jou niks van die kinders van Ammon se land as besitting gee nie, omdat Ek dit aan die kinders van Lot as besitting gegee het.
EN dit is die nasies wat die HERE laat oorbly het om Israel, almal wat al die oorloë van Kanaän nie geken het nie, deur hulle op die proef te stel — net dat die geslagte van die kinders van Israel dit kan weet—om hulle te leer oorlog voer, ten minste die wat daar vroeër nie van geweet het nie: vyf vorste van die Filistyne en al die Kanaäniete en Sidoniërs en Hewiete wat in die gebergte Líbanon gewoon het, van die berg Baäl-Hermon af tot by die ingang na Hamat. Hulle was dan daar om deur hulle Israel op die proef te stel; om te weet of hulle na die gebooie van die HERE wat Hy hulle vaders deur Moses beveel het, sou luister. SO het die kinders van Israel dan onder die Kanaäniete, Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete gewoon, en húl dogters vir hulle as vroue geneem en hulle eie dogters aan húl seuns gegee en hul gode gedien. En die kinders van Israel het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE en die HERE hulle God vergeet en die Baäls en die heilige boomstamme gedien. Daarop het die toorn van die HERE teen Israel ontvlam, en Hy het hulle verkoop in die hand van Kusan Risatáim, die koning van Mesopotámië, en die kinders van Israel het Kusan Risatáim agt jaar lank gedien. Maar toe die kinders van Israel die HERE aanroep, het die HERE ’n verlosser vir die kinders van Israel verwek, wat hulle verlos het: Ótniël, die seun van Kenas, die jonger broer van Kaleb. En die Gees van die HERE het op hom gekom, en hy het Israel gerig en uitgetrek om oorlog te voer; en die HERE het Kusan Risatáim, die koning van Aram, in sy hand gegee, sodat hy die oorhand oor Kusan Risatáim gekry het. Toe kry die land rus veertig jaar lank. En Ótniël, die seun van Kenas, het gesterwe. EN die kinders van Israel het weer gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE. Toe maak die HERE Eglon, die koning van Moab, sterk teen Israel, omdat hulle gedoen het wat verkeerd was in die oë van die HERE; en hy versamel by hom die kinders van Ammon en Ámalek. Daarop het hy weggetrek en Israel verslaan, en hulle het die Palmstad in besit geneem. En die kinders van Israel het Eglon, die koning van Moab, agttien jaar lank gedien. Maar toe die kinders van Israel die HERE aanroep, het die HERE vir hulle as verlosser verwek: Ehud, die seun van Gera, die Benjaminiet, ’n man wat links was. Deur hom stuur toe die kinders van Israel die belasting aan Eglon, die koning van Moab. En Ehud het vir hom ’n swaard gemaak, aan twee kante skerp, een el lank, en dit onder sy klere aan sy regterheup vasgegord; en hy het die belasting aan Eglon, die koning van Moab, gebring; en Eglon was ’n baie vet man. En toe hy die belasting volledig afgelewer het, bring hy die mense wat die belasting gedra het, weg; maar hy self het omgedraai by die gesnede beelde wat by Gilgal was, en gesê: Ek het ’n geheime opdrag aan u, o koning! Dié sê toe: Stil! En almal wat by hom staan, het van hom af weggegaan buitentoe. En toe Ehud by hom inkom, terwyl hy in die koel bo-kamer sit wat vir hom alleen was, sê Ehud: Ek het ’n woord van God aan u! En toe hy van sy stoel af opstaan, steek Ehud sy linkerhand uit en gryp die swaard van sy regterheup af en steek dit in sy buik, sodat selfs die hef agter die lem ingedring het en die vet, want hy het die swaard nie uit sy buik uitgetrek nie, om die lem toegesluit en by die wond uitgepuil het. Toe gaan Ehud uit op die galery, maar hy het die deure van die bo-kamer agter hom gesluit en gegrendel. Net toe hy uitgegaan het, kom sy dienaars; en toe hulle sien en kyk: die deure van die bo-kamer was gegrendel, sê hulle: Hy is seker besig om sy voete te bedek in die koel kamer. En hulle het gewag totdat hulle verleë was; maar—hy het die deure van die bo-kamer nie oopgemaak nie! En toe hulle die sleutel gaan haal en oopsluit, lê hulle heer daar dood op die grond! Maar terwyl hulle nog talm, het Ehud ontvlug en die gesnede beelde verbygegaan en na Seïra ontsnap. En toe hy aankom, blaas hy op die ramshoring op die gebergte van Efraim, en die kinders van Israel het saam met hom van die gebergte afgetrek, en hy voor hulle uit. Toe sê hy vir hulle: Volg my, want die HERE gee julle vyande, die Moabiete, in julle hand; en hulle het agter hom aan afgetrek en die Moabiete van die driwwe van die Jordaan afgesny en niemand toegelaat om deur te gaan nie. En hulle het in dié tyd van Moab omtrent tienduisend man verslaan, almal goed geboude en almal dapper manne, en niemand het vrygekom nie. So moes Moab dan dié dag buig onder die hand van Israel; en die land het tagtig jaar lank gerus. Toe kom ná hom Samgar, die seun van Anat, wat van die Filistyne seshonderd man met ’n osdrywerstok verslaan het; en ook hy het Israel verlos.
En ook Rut, die Moabitiese, die vrou van Maglon, verwerf ek vir my as vrou om die naam van die dode oor sy erfdeel in stand te hou, sodat die naam van die dode onder sy broers en uit die poort van sy woonplek nie uitgeroei word nie. Julle is vandag getuies.
EN daarna het Dawid die Filistyne verslaan en hulle onderwerp; en Dawid het die gesag oor die moederstad uit die hand van die Filistyne geneem. Hy het die Moabiete ook verslaan en hulle gemeet met ’n lyn deur hulle op die grond te laat lê: en hy het twee mate gemeet om dood te maak en een volle maat om te laat lewe; en die Moabiete het Dawid se belastingpligtige knegte geword. Verder het Dawid Hadadéser, die seun van Rehob, die koning van Soba, verslaan, toe dié getrek het om sy mag aan die Eufraatrivier te herstel. En Dawid het van hom duisend-sewehonderd perderuiters afgeneem en twintigduisend man voetgangers, en Dawid het al die trekperde se hakskeensenings afgesny, maar honderd trekperde daarvan laat oorbly. En die Arameërs van Damaskus het gekom om Hadadéser, die koning van Soba, te help; maar Dawid het onder die Arameërs twee-en-twintigduisend man verslaan. En Dawid het wagposte in Aram-Damaskus uitgesit, sodat die Arameërs Dawid se belastingpligtige knegte was; en die HERE het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het. En Dawid het die goue skilde geneem wat die dienaars van Hadadéser gedra het, en dit na Jerusalem gebring. En uit Bétag en uit Berotái, stede van Hadadéser, het koning Dawid ontsaglik veel koper weggeneem. Toe Toï, die koning van Hamat, hoor dat Dawid die hele leërmag van Hadadéser verslaan het, stuur Toï sy seun Joram na koning Dawid om hom na die welstand te vra en hom geluk te wens, omdat hy teen Hadadéser geveg en hom verslaan het—want Hadadéser het gedurig oorlog gevoer met Toï—en in sy hand was silwer- en goue en kopervoorwerpe. Dit het koning Dawid ook aan die HERE geheilig, saam met die silwer en die goud wat hy geheilig het van al die nasies wat hy onderwerp het: van die Arameërs en die Moabiete en van die kinders van Ammon en van die Filistyne en van die Amalekiete en van die buit van Hadadéser, die seun van Rehob, die koning van Soba. En Dawid het naam gemaak toe hy, by sy terugkoms van die neerlaag van die Arameërs, in die Soutdal agttienduisend Edomiete verslaan het. En Dawid het wagposte in Edom uitgesit, in die hele Edom het hy wagposte uitgesit, en al die Edomiete het Dawid se knegte geword; en die HERE het Dawid die oorwinning gegee oral waar hy getrek het. En Dawid het oor die hele Israel geregeer, en Dawid het aan sy hele volk reg en geregtigheid gedoen. En Joab, die seun van Serúja, was oor die leër; en Jósafat, die seun van Ahílud, was kanselier. En Sadok, die seun van Ahítub, en Ahiméleg, die seun van Ábjatar, was priesters, en Serája was skrywer. En Benája, die seun van Jójada, was oor die Kreti en die Pleti, en die seuns van Dawid was priesters.
EN Joram, die seun van Agab, het koning geword oor Israel in Samaría in die agttiende jaar van Jósafat, die koning van Juda, en hy het twaalf jaar geregeer. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, maar nie soos sy vader en sy moeder nie, want hy het die klippilaar van Baäl verwyder wat sy vader gemaak het. Maar hy het die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het, aangekleef sonder om daarvan af te wyk. En Mesa, die koning van Moab, was ’n skaapboer, en hy het aan die koning van Israel gelewer honderdduisend lammers en honderdduisend ramme se wol. Maar ná die dood van Agab het die koning van Moab van die koning van Israel afvallig geword. En in dieselfde tyd het koning Joram uit Samaría uitgetrek en die hele Israel gemonster. Ook het hy Jósafat, die koning van Juda, laat weet: Die koning van Moab het van my afvallig geword; sal u saam met my trek om teen die Moabiete te veg? En hy antwoord: Ek sal optrek; ek sal wees soos u, my volk soos u volk, my perde soos u perde. En hy vra: Met watter pad sal ons optrek? Toe antwoord hy: Met die pad deur die woestyn van Edom. So het die koning van Israel dan getrek en die koning van Juda en die koning van Edom; maar nadat hulle ’n pad van sewe dae omgetrek het, was daar geen water vir die leër en die vee wat in hulle voetspore gevolg het nie. Toe sê die koning van Israel: Ag, die HERE het hierdie drie konings geroep om hulle in die hand van die Moabiete te gee! En Jósafat vra: Is hier nie ’n profeet van die HERE, dat ons deur hom die HERE kan raadpleeg nie? Toe antwoord een van die koning van Israel se dienaars en sê: Hier is Elísa, die seun van Safat, wat water op die hande van Elía gegiet het. Daarop sê Jósafat: By hom is die woord van die HERE. So het die koning van Israel en Jósafat en die koning van Edom dan na hom afgegaan. Maar Elísa het aan die koning van Israel gesê: Wat het ek met u te doen? Gaan na die profete van u vader en die profete van u moeder! Maar die koning van Israel antwoord hom: Ag nee, want die HERE het hierdie drie konings geroep om hulle in die hand van die Moabiete te gee. En Elísa sê: So waar as die HERE van die leërskare leef voor wie se aangesig ek staan, as ek nie agting gehad het vir die persoon van Jósafat, die koning van Juda, nie, ek sou na u nie kyk en u nie aansien nie. Maar bring nou vir my ’n siterspeler. En toe die siterspeler op die snare speel, het die hand van die HERE op hom gekom, en hy het gesê: So spreek die HERE: Maak hierdie dal vol gate. Want so spreek die HERE: Julle sal geen wind sien nie, en julle sal geen reën sien nie, en tog sal hierdie dal vol water word, sodat julle self en julle vee en julle ander diere kan drink. Ja, dit is nog te gering in die oë van die HERE: Hy sal ook die Moabiete in julle hand gee. En julle sal elke versterkte stad en elke uitgesoekte stad oorweldig en elke goeie boom omkap en al die waterfonteine toestop, en elke goeie stuk grond sal julle met klippe bederwe. En die volgende môre, omtrent die tyd dat hulle die spysoffer bring, kom daar meteens water van die kant van Edom af, sodat die land vol water geword het. En toe al die Moabiete hoor dat die konings optrek om teen hulle te veg, is hulle opgeroep, almal wat die gord vasgespe en wat ouer was, en hulle het by die grens gaan staan. Terwyl hulle die môre vroeg hul gereedmaak en die son oor die water opgaan, sien die Moabiete op ’n afstand die water rooi soos bloed. En hulle sê: Dit is bloed; die konings het sekerlik mekaar aangeval en die een die ander verslaan; en nou op die buit af, julle Moabiete! Maar toe hulle by die laer van Israel kom, het die Israeliete hulle gereedgemaak en die Moabiete verslaan, sodat hulle voor hul uit gevlug het; en hulle het dieper ingetrek en die Moabiete verslaan. Daarna het hulle die stede verwoes en op elke goeie stuk grond elkeen sy klip gegooi, sodat dit daarvan vol was, en elke waterfontein toegestop en elke goeie boom omgekap, totdat hulle net in Kir-Haréset die klipmure daarvan laat oorbly het. Maar toe die slingeraars dit omsingel en beskiet, en die koning van Moab sien dat die geveg vir hom te swaar word, het hy sewehonderd man wat die swaard uittrek, met hom saamgeneem om na die koning van Edom deur te breek; maar hulle kon nie. Daarop neem hy sy eersgebore seun, wat in sy plek koning sou word, en offer hom as brandoffer op die muur. Toe het ’n groot toorn oor Israel gekom, sodat hulle van hom weggetrek en na hulle land teruggegaan het.