Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis gekom het. En hy het vir hulle ’n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het geëet.
En op ’n dag het Elísa verbygegaan na Sunem; en daar was ’n vermoënde vrou wat by hom aangehou het dat hy brood sou eet. En so dikwels as hy verbygaan, het hy daarheen weggedraai om brood te eet.
Ek sê vir julle, al sou hy ook nie opstaan en vir hom gee omdat hy sy vriend is nie, sal hy tog ter wille van sy onbeskaamdheid opstaan en hom gee soveel as hy nodig het.
Daarop kom hulle naby die dorp waarheen hulle op reis was, en Hy het gemaak of Hy verder wou gaan; maar hulle het by Hom aangedring en gesê: Bly by ons, want dit is amper aand en die dag het gedaal; en Hy het ingegaan om by hulle te bly.
Toe loop Abraham haastig in die tent na Sara en sê: Maak gou, knie drie mate meel, die beste, en maak roosterkoeke. Daarop loop Abraham na die beeste en vang ’n jong, mooi kalf en gee dit aan die dienaar, wat dit gou klaargemaak het. En hy neem dikmelk en soetmelk en die kalf wat hy klaargemaak het, en sit dit aan hulle voor, terwyl hy self by hulle onder die boom bly staan; en hulle het geëet.
Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word. ... En hulle het van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het, ongesuurde koeke gebak; want dit was nie ingesuur nie, omdat hulle uit Egipte uitgedryf is, sodat hulle nie kon vertoef nie en ook geen padkos vir hulle klaargemaak het nie.
Toe het Gídeon ingegaan en ’n bokkie berei, en van ’n efa meel ongesuurde koeke; die vleis het hy in ’n mandjie gesit en die sous in ’n pot gegooi; en hy het dit na Hom uitgebring onder die terpentynboom en dit naby neergesit.