Kyk, die loon van die arbeiders wat julle lande afgeoes het, wat deur julle agtergehou is, roep uit; en die geroep van die maaiers het gekom tot in die ore van die Here van die leërskare.
En God het ’n engel na Jerusalem gestuur om dit te verwoes; en terwyl hy dit verwoes, het die HERE dit gesien, en dit het Hom berou oor die onheil, en Hy het aan die engel wat die verwoesting moes aanrig, gesê: Genoeg, trek nou jou hand terug! En die engel van die HERE het by die dorsvloer van Ornan, die Jebusiet, gestaan. Toe Dawid sy oë opslaan, sien hy die engel van die HERE staan tussen die aarde en die hemel met sy ontblote swaard in sy hand oor Jerusalem uitgestrek. Daarop val Dawid en die oudstes, met rouklere bedek, op hulle aangesig.
Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ’n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees.
Toe het die engel van die HERE uitgetrek en in die laer van Assirië honderd-vyf-en-tagtigduisend verslaan. En toe hulle die môre vroeg hul klaarmaak—was dit almal dooie liggame.
Maar aan die ander sê Hy voor my ore: Trek agter hom aan deur die stad, en slaan; laat julle oog nie verskoon nie, en moet nie spaar nie; slaan dood grysaards, jongmanne en jongedogters en kinders en vroue tot vernietiging toe; maar raak aan niemand op wie die teken is nie, en begin by my heiligdom. En hulle het begin by die manne, die oudstes, wat voor die huis was.
die Seun van die mens sal sy engele uitstuur, en hulle sal uit sy koninkryk bymekaarmaak al die struikelblokke en die wat die ongeregtigheid doen, en sal hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande. ... So sal dit wees in die voleinding van die wêreld: die engele sal uitgaan en die slegte mense onder die regverdiges uit afskei en hulle in die vuuroond gooi. Daar sal geween wees en gekners van die tande.
En moet ons nie liewer sê nie, soos ons belaster word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie daaruit kan voortkom? Hulle veroordeling is regverdig. WAT dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is,
soos Sodom en Gomorra en die stede rondom hulle, wat op dieselfde manier as hierdie mense gehoereer en agter vreemde vlees aan geloop het, as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.
EN ek het ’n groot stem uit die tempel aan die sewe engele hoor sê: Gaan gooi die skale van die grimmigheid van God op die aarde uit. Toe gaan die eerste een weg en gooi sy skaal op die aarde uit, en kwaai en bose swere het aan die mense gekom wat die merk van die dier gehad het en sy beeld aanbid het. En die tweede engel het sy skaal op die see uitgegooi, en dit het bloed geword soos van ’n dooie, en al die lewende wesens in die see het gesterwe. En die derde engel het sy skaal uitgegooi op die riviere en op die waterfonteine, en dit het bloed geword. En ek het die engel van die waters hoor sê: Regverdig, Here, is U wat is en wat was, U, die Heilige, omdat U hierdie oordeel uitgevoer het; want hulle het die bloed van heiliges en profete vergiet, en U het aan hulle bloed gegee om te drink, want hulle het dit verdien. En ek het ’n ander een uit die altaar hoor sê: Ja, Here God, Almagtige, waaragtig en regverdig is u oordele. En die vierde engel het sy skaal op die son uitgegooi, en daaraan is dit gegee om die mense met vuur te skroei. En die mense is geskroei met ’n groot hitte, en hulle het die Naam van God gelaster wat mag het oor hierdie plae, en hulle het hul nie bekeer om Hom heerlikheid te gee nie. En die vyfde engel het sy skaal uitgegooi op die troon van die dier, en sy koninkryk is verduister, en hulle het hul tonge gekou van pyn; en hulle het die God van die hemel gelaster oor hulle pyne en oor hulle swere, en het hulle nie bekeer van hul werke nie. En die sesde engel het sy skaal uitgegooi op die groot rivier, die Eufraat, en sy water het opgedroog, sodat die pad van die konings wat van die Ooste af kom, reggemaak kon word.