Daarop sê die manne vir Lot: Wie het jy hier nog? ’n Skoonseun en jou seuns en jou dogters en almal wat jy het in die stad—bring hulle uit die plek uit;
Daarop het hy die vergadering toegespreek en gesê: Verwyder julle tog van die tente van hierdie goddelose manne en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, dat julle nie weens al hulle sondes omkom nie.
En aan die twee manne wat die land verken het, het Josua gesê: Gaan in die huis van die hoer, en bring die vrou en almal wat aan haar behoort, daaruit, soos julle vir haar gesweer het. Die jongmanne, die spioene, het toe ingegaan en Ragab met haar vader en haar moeder en haar broers en almal wat aan haar behoort het, uitgebring—al haar familiebetrekkinge het hulle uitgebring en hulle buitekant die laer van Israel laat bly.
en die regverdige Lot gered het, wat hom baie gekwel het oor die losbandige lewe van die sedelose mense; ... die Here weet om die godsaliges uit versoeking te verlos en die onregverdiges te bewaar vir die dag van oordeel om gestraf te word;
Toe gaan Lot uit en praat met sy skoonseuns wat met sy dogters sou trou, en sê: Maak julle klaar, gaan uit hierdie plek uit, want die HERE gaan die stad verwoes. Maar hy was in die oë van sy skoonseuns soos een wat gekskeer. ... En toe hulle hulle na buite uitgelei het, sê Hy: Vlug vir jou lewe! Moenie omkyk nie, en moenie êrens in die Jordaanstreek bly staan nie. Vlug na die gebergte, dat jy nie omkom nie! ... Vlug gou daarheen, want Ek kan niks doen voordat jy daar aankom nie. Daarom noem hulle die stad Soar.
En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie.