Verder sê hy: Laat die Here tog nie toornig wees nie, en mag ek nog iets sê. Miskien sal daar dertig gevind word. En Hy antwoord: Ek sal dit nie doen as Ek daar dertig vind nie.
Toe kom Juda nader na hom en sê: Ag, my heer, mag u dienaar tog ’n woord spreek voor die ore van my heer, en laat u toorn nie teen u dienaar ontvlam nie, want u staan gelyk met Farao.
Toe het Gídeon met God gespreek: Laat u toorn nie teen my ontvlam nie, en laat my net hierdie keer mag spreek; laat my tog net hierdie keer met die vlies ’n proef neem: laat dit op die vlies alleen droog wees terwyl daar op die grond oral dou is.
Al die dienaars van die koning en die volk van die provinsies van die koning weet dat vir elke man of vrou wat na die koning in die binneste voorhof ingaan, sonder dat hy geroep is, een en dieselfde wet geld: hy moet gedood word; behalwe wanneer die koning sy goue septer na hom uitsteek, dat hy mag lewe; en ek is nou al dertig dae lank nie geroep om by die koning in te kom nie. En hulle het die woorde van Ester aan Mórdegai meegedeel. Daarop sê Mórdegai dat hulle Ester moes antwoord: Verbeel jou nie dat jy alleen uit al die Jode in die huis van die koning sal vrykom nie. Want as jy nou werklik swyg, sal daar van ’n ander kant af verligting en redding vir die Jode tot stand kom, maar jy en jou familie sal omkom, en wie weet of jy nie met die oog op ’n tyd soos hierdie tot die koninklike waardigheid geraak het nie? Toe sê Ester dat hulle Mórdegai moes antwoord: Gaan heen, versamel al die Jode wat in Susan te vinde is, en vas julle om my ontwil; en julle moet nie eet en drink nie, drie dae lank, nag en dag; ek ook met my dienaresse sal net so vas; en so sal ek na die koning ingaan, wat nie volgens wet is nie, en as ek omkom, dan kom ek om.
Toe het ek gesê: Wee my, ek is verlore! Want ek is ’n man onrein van lippe en woon onder ’n volk wat onrein van lippe is; want my oë het die Koning, die HERE van die leërskare, gesien!
Want my gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle weë is nie my weë nie, spreek die HERE. Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes.
Daarom, omdat ons ’n onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ’n verterende vuur.