Laat dit ver van U wees om so iets te doen: om die regverdige saam met die goddelose om te bring, sodat die regverdige gelyk is met die goddelose. Laat dit ver van U wees! Sal die Regter van die ganse aardegeen reg doen nie?
REGVERDIG is U, o HERE, as ek met U sou twis. Tog wil ek oor regsake met U spreek: Waarom is die weg van die goddelose voorspoedig? Waarom lewe hulle rustig, almal wat ontrou bedrywe?
DIT is net eenders—daarom sê ek: Die vrome en die goddelose vernietig Hy. As die gésel skielik doodmaak, spot Hy met die vertwyfeling van die onskuldiges.
Alles het ek gesien in die dae van my nietigheid: daar is ’n regverdige wat ondanks sy regverdigheid omkom, en daar is ’n goddelose wat ondanks sy goddeloosheid lank lewe.
aangesien ’n sondaar honderd maal kwaad doen en hy lank lewe—alhoewel ek weet dat dit goed sal gaan met die wat God vrees, omdat hulle voor sy aangesig vrees, en dit nie goed sal gaan met die goddelose, en hy die dae nie sal verleng soos ’n skaduwee nie, omdat hy voor die aangesig van God nie vrees nie.
Sê van die regverdige dat dit met hom goed sal gaan; want die vrug van hul handelinge sal hulle eet. Wee die goddelose! Met hom gaan dit sleg; want wat sy hande gewerk het, sal hom aangedoen word.
DIE regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; en die vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let; want die regverdige word weggeruk vanweë die boosheid. Hy gaan in die vrede in: hulle sal rus op hulle bedde—hy wat sy reguit pad loop.
Kan ook een wat die reg haat, heers? Of durf u die Regverdige, die Geweldige, veroordeel? Durf iemand aan ’n koning sê: Jou deugniet! Aan die edeles: Jou goddelose! Hoeveel minder aan Hom wat die vorste nie voortrek nie en op die vername nie meer ag gee as op die arme nie; want hulle almal is die werk van sy hande.
Die HERE toets die regverdige; maar sy siel haat die goddelose en die wat geweld liefhet. Hy sal op die goddelose vangnette, vuur en swawel laat reën; en ’n gloeiende wind sal die deel van hulle beker wees. Want die HERE is regverdig; Hy het geregtighede lief; die opregtes sal sy aangesig sien.
Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee, sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe. Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê. En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.
Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.