Kruisverwysings → Genesis 17:7

En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as ’n ewige verbond, om vir jou ’n God te wees en vir jou nageslag ná jou.

Ek sal my verbond oprig

Genesis 15:18
Op dié dag het die HERE met Abram ’n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier:
Genesis 26:24
En die HERE het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg.
Eksodus 6:3
Ook het Ek my verbond met hulle opgerig om hulle die land Kanaän te gee, die land van hulle vreemdelingskap waarin hulle vertoef het;
Psalms 105:8-11
Hy dink vir ewig aan sy verbond, aan die woord wat Hy ingestel het vir duisend geslagte — die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, en sy eed aan Isak; wat Hy ook vir Jakob as insetting bekragtig het, vir Israel as ’n ewige verbond, met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel.
Miga 7:20
U sal trou bewys aan Jakob, goedertierenheid aan Abraham, wat U aan ons vaders met ’n eed beloof het sedert die dae van die voortyd.
Lukas 1:54-55,72-75
Hy het sy kneg Israel bygestaan, sodat Hy aan sy barmhartigheid sou dink — soos Hy tot ons vaders gespreek het — aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid. ... om barmhartigheid te bewys aan ons vaders en aan sy heilige verbond te dink, aan die eed wat Hy gesweer het vir Abraham, ons vader, om aan ons te gee dat ons, verlos uit die hand van ons vyande, Hom sonder vrees kan dien, in heiligheid en geregtigheid voor Hom, al die dae van ons lewe.
Romeine 9:4,8-9
Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort en die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes; ... Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag. Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal ’n seun hê.
Galásiërs 3:17
Maar ek sê dít: die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie.
Efésiërs 2:2
waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk,

God

Genesis 26:24
En die HERE het aan hom in dieselfde nag verskyn en gesê: Ek is die God van Abraham, jou vader. Moenie bang wees nie, want Ek is met jou; en Ek sal jou seën en jou nageslag vermeerder ter wille van Abraham, my kneg.
Genesis 28:13
En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee;
Eksodus 3:6,15
Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien. ... Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag.
Levitikus 26:12
En Ek sal in jul midde wandel en vir julle ’n God wees, en júlle sal vir My ’n volk wees.
Psalms 81:11
Ek is die HERE jou God wat jou laat optrek het uit Egipteland; maak jou mond wyd oop, dat Ek dit kan vul.
Esegiël 28:26
En hulle sal daarin veilig woon en huise bou en wingerde plant; ja, hulle sal veilig woon as Ek strafgerigte voltrek teen almal wat hulle van alle kante verag; en hulle sal weet dat Ek die HERE hulle God is.
Mattheüs 22:32
Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob? God is nie ’n God van dooies nie, maar van lewendes.
Hebreërs 8:10
Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.
Hebreërs 11:16
Maar nou verlang hulle na ’n beter een, dit is ’n hemelse. Daarom skaam God Hom nie vir hulle om hulle God genoem te word nie, want Hy het vir hulle ’n stad berei.

nageslag ná jou

Eksodus 19:5-6
As julle dan nou terdeë na my stem luister en my verbond hou, sal julle my eiendom uit al die volke wees, want die hele aarde is myne. En júlle sal vir My ’n koninkryk van priesters en ’n heilige nasie wees. Dit is die woorde wat jy aan die kinders van Israel moet meedeel.
Markus 10:14
Maar toe Jesus dit sien, het Hy hulle dit baie kwalik geneem en vir hulle gesê: Laat die kindertjies na My toe kom en verhinder hulle nie, want aan sulkes behoort die koninkryk van God.
Handelinge 2:39
Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep.
Romeine 9:7-9
Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie; maar: in Isak sal jou nageslag genoem word. Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie, maar die kinders van die belofte word gereken as die nageslag. Want dit is die woord van die belofte: Omtrent hierdie tyd sal Ek kom, en Sara sal ’n seun hê.