Kruisverwysings → Genesis 17:4

Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van ’n menigte van nasies word.

vader van ’n menigte van nasies

Genesis 12:2
En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees.
Genesis 13:16
En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word.
Genesis 16:10
Verder sê die Engel van die HERE vir haar: Ek sal jou nageslag grootliks vermeerder, sodat dit vanweë die menigte nie getel kan word nie.
Genesis 22:17
dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem.
Genesis 25:1-18
EN Abraham het weer ’n vrou geneem met die naam van Ketúra. En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar. En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die Assuriete, Letusiete en Leümmiete. En die seuns van Mídian was: Efa en Efer en Henog en Abída en Eldaä. Hulle almal was seuns van Ketúra. En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het, maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland. En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het: honderd-vyf-en-sewentig jaar. Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel. En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê, die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara. Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by die put Lagai-Roï. En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het— dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming: die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam en Misma en Duma en Massa, Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma. Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme. En dit is die lewensjare van Ismael: honderd-sewen-en-dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote. En hulle het gewoon van Háwila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.
Genesis 32:12
U het tog self gesê: Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie.
Genesis 35:11
Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. ’n Nasie, ja, ’n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom.
Genesis 36:1-43
EN dit is die geskiedenis van Esau, dit is Edom. Esau het sy vroue geneem uit die dogters van Kanaän: Ada, die dogter van Elon, die Hetiet, en Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die Hewiet; en Basmat, die dogter van Ismael, die suster van Nébajot. En Ada het vir Esau gebaar Élifas, en Basmat het gebaar Réhuel. En Oholibáma het gebaar Jehus en Jáelam en Korag. Dit is die seuns van Esau wat vir hom gebore is in die land Kanaän. Toe neem Esau sy vroue en sy seuns en sy dogters en al die mense van sy huis, sy vee en al sy diere en al sy besittings wat hy in die land Kanaän verwerf het, en hy trek na ’n land, wég van sy broer Jakob af; want hulle besittings was te groot om saam te woon, en die land van hulle vreemdelingskap kon hulle nie dra vanweë hulle vee nie. En Esau het gaan woon in die gebergte Seïr. Esau, dit is Edom. Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die gebergte Seïr. Dit is die name van die seuns van Esau: Élifas, die seun van Ada, die vrou van Esau; Réhuel, die seun van Basmat, die vrou van Esau. En die seuns van Élifas was: Teman, Omar, Sefo en Gáetam en Kenas. En Timna was ’n byvrou van Élifas, die seun van Esau; en sy het vir Élifas gebaar Ámalek. Dit is die seuns van Ada, die vrou van Esau. En dit is die seuns van Réhuel: Nahat en Serag, Samma en Missa. Dit was die seuns van Basmat, die vrou van Esau. En dit was die seuns van Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die vrou van Esau—sy het vir Esau gebaar Jehus en Jáelam en Korag. Dit is die stamhoofde onder die seuns van Esau. Die seuns van Élifas, die eersgeborene van Esau, was: die stamhoof Teman, die stamhoof Omar, die stamhoof Sefo, die stamhoof Kenas, die stamhoof Korag, die stamhoof Gáetam, die stamhoof Ámalek. Dit is die stamhoofde van Élifas in die land Edom; dit is die seuns van Ada. En dit is die seuns van Réhuel, die seun van Esau: die stamhoof Nahat, die stamhoof Serag, die stamhoof Samma, die stamhoof Missa. Dit is die stamhoofde van Réhuel in die land Edom. Dit is die seuns van Basmat, die vrou van Esau. En dit is die seuns van Oholibáma, die vrou van Esau: die stamhoof Jehus, die stamhoof Jáelam, die stamhoof Korag. Dit is die stamhoofde van Oholibáma, die dogter van Ana, die vrou van Esau. Dit is die seuns van Esau, en dit is hulle stamhoofde. Dit is Edom. Dit is die seuns van Seïr, die Horiet, die eerste inwoners van die land: Lotan en Sobal en Síbeon en Ana en Dison en Eser en Disan. Dit is die stamhoofde van die Horiete, die seuns van Seïr in die land Edom. En die seuns van Lotan was Hori en Hemam; en die suster van Lotan was Timna. En dit is die seuns van Sobal: Alwan en Manáhat en Ebal, Sefo en Onam. En dit is die seuns van Síbeon: Aja en Ana. Dit is dié Ana wat die warm fonteine in die woestyn gekry het toe hy die esels van sy vader Síbeon opgepas het. En dit is die seuns van Ana: Dison; en Oholibáma was die dogter van Ana. En dit is die seuns van Dison: Hemdan en Esban en Jitran en Keran. Dit is die seuns van Eser: Bilhan en Saäwan en Akan. Dit is die seuns van Disan: Us en Aran. Dit is die stamhoofde van die Horiete: die stamhoof Lotan, die stamhoof Sobal, die stamhoof Síbeon, die stamhoof Ana, die stamhoof Dison, die stamhoof Eser, die stamhoof Disan. Dit is die stamhoofde van die Horiete volgens hulle stamme in die land Seïr. En dit is die konings wat geregeer het in die land Edom voordat daar ’n koning geregeer het oor die kinders van Israel: Bela, die seun van Beor, het geregeer in Edom; en die naam van sy stad was Dinhába. En ná die dood van Bela het Jobab, die seun van Serag, van Bosra, in sy plek geregeer. En ná die dood van Jobab het Husam, uit die land van die Temaniete, in sy plek geregeer. En ná die dood van Husam het Hadad, die seun van Bedad, wat die Midianiete verslaan het in die veld van Moab, in sy plek geregeer, en die naam van sy stad was Awit. En ná die dood van Hadad het Samla van Másreka in sy plek geregeer. En ná die dood van Samla het Saul van Réhobot, aan die rivier, in sy plek geregeer. En ná die dood van Saul het Baäl-Hanan, die seun van Akbor, in sy plek geregeer. En ná die dood van Baäl-Hanan, die seun van Akbor, het Hadar in sy plek geregeer; en die naam van sy stad was Pahu; en die naam van sy vrou was Mehetábeël, die dogter van Matred, die dogter van Mésahab. Dit is die name van die stamhoofde van Esau, volgens hulle geslagte, volgens hulle woonplekke, met hulle name: die stamhoof Timna, die stamhoof Alwa, die stamhoof Jetet, die stamhoof Oholibáma, die stamhoof Ela, die stamhoof Pinon, die stamhoof Kenas, die stamhoof Teman, die stamhoof Mibsar, die stamhoof Mágdiël, die stamhoof Iram. Dit is die stamhoofde van Edom, volgens hulle verblyfplekke in die land van hulle besitting. Dit is Esau, die stamvader van die Edomiete.
Númeri 1:1-54
VERDER het die HERE met Moses gespreek in die woestyn Sinai, in die tent van samekoms, op die eerste van die tweede maand, in die tweede jaar nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het, en gesê: Neem julle die volle getal van die hele vergadering van die kinders van Israel op volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, almal wat manlik is, hoof vir hoof; van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek in Israel, dié moet julle tel volgens hulle leërafdelings, jy en Aäron. En met julle saam moet daar van elke stam ’n man wees, ’n man wat hoof is van sy families. En dit is die name van die manne wat julle moet bystaan: Vir Ruben: Elísur, die seun van Sedéür; vir Símeon: Selúmiël, die seun van Surísaddai; vir Juda: Nagson, die seun van Ammínadab; vir Íssaskar: Netáneël, die seun van Suar; vir Sébulon: Elíab, die seun van Helon; vir die kinders van Josef: vir Efraim: Elisáma, die seun van Ammíhud; vir Manasse: Gámliël, die seun van Pedásur; vir Benjamin: Abídan, die seun van Gideóni; vir Dan, Ahiëser, die seun van Ammísaddai; vir Aser: Págiël, die seun van Ogran; vir Gad: Éljasaf, die seun van Réhuel; vir Náftali: Ahíra, die seun van Enan. Dit was hulle wat uit die vergadering opgeroep was, die owerstes van hulle voorvaderlike stamme, die stamhoofde van Israel. Toe het Moses en Aäron dié manne geneem wat met hulle name aangewys was, en hulle het die hele vergadering op die eerste dag van die tweede maand bymekaar laat kom; en dié het hulle afkoms opgegee volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, hoof vir hoof, soos die HERE Moses beveel het. En hy het hulle getel in die woestyn Sinai. En die seuns van Ruben, die eersgeborene van Israel—hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, hoof vir hoof, almal wat manlik was, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Ruben was ses-en-veertigduisend-vyfhonderd. Van die seuns van Símeon, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, hoof vir hoof, almal wat manlik was, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Símeon was negen-en-vyftigduisend-driehonderd. Van die seuns van Gad, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Gad was vyf-en-veertigduisend-seshonderd-en-vyftig. Van die seuns van Juda, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Juda was vier-en-sewentigduisend-seshonderd. Van die seuns van Íssaskar, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Íssaskar was vier-en-vyftigduisend-vierhonderd. Van die seuns van Sébulon, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Sébulon was sewen-en-vyftigduisend-vierhonderd. Van die seuns van Josef, van die seuns van Efraim, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Efraim was veertigduisend-vyfhonderd; van die seuns van Manasse, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Manasse was twee-en-dertigduisend-tweehonderd. Van die seuns van Benjamin, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Benjamin was vyf-en-dertigduisend-vierhonderd. Van die seuns van Dan, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Dan was twee-en-sestigduisend-sewehonderd. Van die seuns van Aser, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Aser was een-en-veertigduisend-vyfhonderd. Van die seuns van Náftali, hulle nakomelinge volgens hulle geslagte, volgens hulle families, na die getal name, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat op kommando moet uittrek — hulle geteldes van die stam van Náftali was drie-en-vyftigduisend-vierhonderd. Dit is die geteldes wat Moses en Aäron en die owerstes van Israel getel het; twaalf man was dit, elkeen vir sy families. So was dan al die geteldes van die kinders van Israel volgens hulle families, van twintig jaar oud en daarbo, almal wat in Israel op kommando moet uittrek — al die geteldes dan was seshonderd-en-drieduisend-vyfhonderd-en-vyftig. Maar die Leviete, volgens hulle voorvaderlike stam, is onder hulle nie getel nie. Die HERE het naamlik met Moses gespreek en gesê: Net die stam van Levi moet jy nie tel nie en hulle volle getal onder die kinders van Israel nie opneem nie; maar stel jy die Leviete aan oor die tabernakel van die Getuienis en oor al sy gereedskap en oor alles wat daarby behoort. Húlle moet die tabernakel dra en alles wat daarby behoort, en húlle moet dit bedien en rondom die tabernakel laer opslaan. En as die tabernakel wegtrek, moet die Leviete dit afbreek; en as die tabernakel rus, moet die Leviete dit oprig; en die onbevoegde wat nader kom, moet gedood word. En die kinders van Israel moet laer opslaan elkeen op sy laerplek en elkeen by sy vaandel, volgens hulle leërafdelings. Maar die Leviete moet laer opslaan rondom die tabernakel van die Getuienis, dat daar geen toorn oor die vergadering van die kinders van Israel kom nie. So moet dan die Leviete die diens van die tabernakel van die Getuienis waarneem. En die kinders van Israel het dit gedoen; net soos die HERE Moses beveel het, so het hulle gedoen.
Númeri 26:1-65
EN ná die plaag het die HERE met Moses en met Eleásar, die seun van die priester Aäron, gespreek en gesê: Neem julle die volle getal van die hele vergadering van die kinders van Israel op, van twintig jaar oud en daarbo, volgens hulle families, almal wat op kommando moet uittrek in Israel. En Moses en die priester Eleásar het hulle toegespreek in die vlaktes van Moab, by die Jordaan van Jérigo, en gesê: Laat hulle opneem van twintig jaar oud en daarbo, soos die HERE Moses beveel het. En die kinders van Israel wat uit Egipteland uitgetrek het, was: Ruben, die eersgeborene van Israel; die seuns van Ruben was: van Henog die geslag van die Henogiete; van Pallu die geslag van die Palluïete; van Hesron die geslag van die Hesroniete; van Karmi die geslag van die Karmiete. Dit is die geslagte van die Rubeniete; en hulle geteldes was drieen-veertigduisend-sewehonderd-endertig. En die seuns van Pallu was: Elíab; en die seuns van Elíab was: Némuel en Datan en Abíram. Dit is Datan en Abíram wat na die vergadering opgeroep was, wat getwis het teen Moses en Aäron in die bende van Korag toe daar teen die HERE getwis is. En die aarde het sy mond oopgemaak en hulle verslind, saam met Korag, toe die bende gesterf het deurdat die vuur die tweehonderd-en-vyftig man verteer het; en hulle het tot ’n teken geword. Maar die seuns van Korag het nie gesterf nie. Die seuns van Símeon volgens hulle geslagte: van Némuel die geslag van die Nemueliete; van Jamin die geslag van die Jaminiete; van Jagin die geslag van die Jaginiete; van Serag die geslag van die Sargiete; van Saul die geslag van die Sauliete. Dit is die geslagte van die Simeoniete, twee-en-twintigduisend-tweehonderd. Die seuns van Gad volgens hulle geslagte: van Sefon die geslag van die Sefoniete; van Haggi die geslag van die Haggiete; van Suni die geslag van die Suniete; van Osni die geslag van die Osniete; van Eri die geslag van die Eriete; van Arod die geslag van die Arodiete; van Areëli die geslag van die Areëliete. Dit is die geslagte van die seuns van Gad volgens hulle geteldes, veertigduisend-vyfhonderd. Die seuns van Juda was: Er en Onan; maar Er en Onan het gesterwe in die land Kanaän. En die seuns van Juda volgens hulle geslagte: van Sela die geslag van die Selaniete; van Peres die geslag van die Parsiete; van Serag die geslag van die Sargiete. En die seuns van Peres: van Hesron die geslag van die Hesroniete; van Hamul die geslag van die Hamuliete. Dit is die geslagte van Juda volgens hulle geteldes, ses-en-sewentigduisend-vyfhonderd. Die seuns van Íssaskar volgens hulle geslagte: van Tola die geslag van die Tolaïete; van Puwa die geslag van die Puniete; van Jasub die geslag van die Jasubiete; van Simron die geslag van die Simroniete. Dit is die geslagte van Íssaskar volgens hulle geteldes, vier-en-sestigduisend-driehonderd. Die seuns van Sébulon volgens hulle geslagte: van Sered die geslag van die Sardiete; van Elon die geslag van die Eloniete; van Jágleël die geslag van die Jagleëliete. Dit is die geslagte van die Sebuloniete volgens hulle geteldes, sestigduisend-vyfhonderd. Die seuns van Josef volgens hulle geslagte was: Manasse en Efraim. Die seuns van Manasse: van Magir die geslag van die Magiriete. En Magir was die vader van Gílead; van Gílead die geslag van die Gileadiete. Dit is die seuns van Gílead: van Jeser die geslag van die Jesriete; van Helek die geslag van die Helkiete; en van Ásriël die geslag van die Asriëliete; en van Segem die geslag van die Sigmiete; en van Semída die geslag van die Semidaïete; en van Hefer die geslag van die Hefriete. Maar Selófhad, die seun van Hefer, het geen seuns gehad nie, maar net dogters. En die name van die dogters van Selófhad was: Magla en Noa, Hogla, Milka en Tirsa. Dit is die geslagte van Manasse; en hulle geteldes was twee-en-vyftigduisend-sewehonderd. Dit is die seuns van Efraim volgens hulle geslagte: van Sutélag die geslag van die Sutalgiete; van Beger die geslag van die Bagriete; van Tahan die geslag van die Tahaniete. En dit is die seuns van Sutélag: van Eran die geslag van die Eraniete. Dit is die geslagte van die seuns van Efraim volgens hulle geteldes, twee-en-dertigduisend-vyfhonderd. Dit is die seuns van Josef volgens hulle geslagte. Die seuns van Benjamin volgens hulle geslagte: van Bela die geslag van die Baliete; van Asbel die geslag van die Asbeliete; van Ahíram die geslag van die Ahiramiete; van Sefúfam die geslag van die Sufamiete; van Hufam die geslag van die Hufamiete. En die seuns van Bela was: Ard en Naäman; van Ard die geslag van die Ardiete; van Naäman die geslag van die Naämiete. Dit is die seuns van Benjamin volgens hulle geslagte; en hulle geteldes was vyf-en-veertigduisend-seshonderd. Dit is die seuns van Dan volgens hulle geslagte: van Suham die geslag van die Suhamiete. Dit is die geslagte van Dan volgens hulle geslagte. Al die geslagte van die Suhamiete volgens hulle geteldes was vier-en-sestigduisend-vierhonderd. Die seuns van Aser volgens hulle geslagte: van Jimna die geslag van die Jimnaïete; van Jiswi die geslag van die Jiswiete; van Bería die geslag van die Beriïete; van die seuns van Bería: van Heber die geslag van die Hebriete; van Málkiël die geslag van die Malkiëliete. En die naam van die dogter van Aser was Serag. Dit is die geslagte van die seuns van Aser volgens hulle geteldes, drie-en-vyftigduisend-vierhonderd. Die seuns van Náftali volgens hulle geslagte: van Jágseël die geslag van die Jagseëliete; van Guni die geslag van die Guniete; van Jeser die geslag van die Jisriete; van Sillem die geslag van die Sillemiete. Dit is die geslagte van Náftali volgens hulle geslagte; en hulle geteldes was vyf-en-veertigduisend-vierhonderd. Dit is die geteldes van die kinders van Israel: seshonderd-en-eenduisend-sewehonderd-en-dertig. En die HERE het met Moses gespreek en gesê: Vir hierdie mense moet die land as erfenis verdeel word volgens die getal name. Vir die wat baie is, moet jy hulle erfdeel groot maak; en vir die wat min is, moet jy hulle erfdeel klein maak; aan elke stam moet sy erfdeel volgens sy geteldes gegee word. Nogtans moet die land deur die lot verdeel word; volgens die name van hulle voorvaderlike stamme moet hulle erwe. Volgens die lot moet hulle erfenis verdeel word tussen die wat baie en die wat min is. En dit is die geteldes van Levi volgens hulle geslagte: van Gerson die geslag van die Gersoniete; van Kehat die geslag van die Kehatiete; van Merári die geslag van die Merariete. Dit is die geslagte van Levi: die geslag van die Libniete, die geslag van die Hebroniete, die geslag van die Magliete, die geslag van die Musiete, die geslag van die Koragiete. En Kehat was die vader van Amram. En die naam van Amram se vrou was Jogébed, die dogter van Levi wat vir Levi in Egipte gebore is; en vir Amram het sy gebaar: Aäron en Moses en Mirjam, hulle suster. En vir Aäron is gebore: Nadab en Abíhu, Eleásar en Ítamar. En Nadab en Abíhu het gesterwe toe hulle vreemde vuur voor die aangesig van die HERE gebring het. En hulle geteldes was drie-en-twingtigduisend, almal wat manlik was van ’n maand oud en daarbo. Want hulle is nie getel onder die kinders van Israel nie, omdat aan hulle geen erfdeel onder die kinders van Israel gegee is nie. Dit is hulle wat deur Moses en die priester Eleásar getel is, wat die kinders van Israel in die vlaktes van Moab getel het, by die Jordaan van Jérigo. En onder hulle was daar niemand van die wat deur Moses en die priester Aäron getel is nie, toe hulle die kinders van Israel in die woestyn Sinai getel het. Want die HERE het van hulle gesê: Sterwe sal hulle in die woestyn! En van hulle het niemand oorgebly nie buiten Kaleb, die seun van Jefúnne, en Josua, die seun van Nun.
Romeine 4:11-18
En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ’n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word; en ook ’n vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham toe hy onbesnede was. Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof. Want as hulle wat uit die wet is, erfgename is, dan het die geloof waardeloos geword en die belofte tot niet geraak. Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie. Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal — soos geskrywe is: Ek het jou ’n vader van baie nasies gemaak — voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees.
Galásiërs 3:28-29
Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus. En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename.