Daarop neem Abraham sy seun Ismael en almal wat in sy huis gebore is, en almal wat met sy geld gekoop is, almal wat manlik was onder die mense in die huis van Abraham, en hy het die vlees van hulle voorhuid nog op daardie selfde dag besny, soos God met hom gespreek het.
Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word— julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ’n teken wees van die verbond tussen My en julle. ’n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie— die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as ’n ewige verbond. En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie—dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek. ... Op daardie selfde dag is Abraham en sy seun Ismael besny en al die manne van sy huis—die wat in sy huis gebore en die wat van vreemdelinge met geld gekoop is, is saam met hom besny.
Want Ek het hom verkies, dat hy aan sy kinders en sy huis ná hom bevel sou gee dat hulle die weg van die HERE moet hou om geregtigheid en reg te doen; sodat die HERE oor Abraham kan bring wat Hy oor hom gespreek het.
En hulle het geluister na Hemor en na sy seun Sigem—almal wat uit sy stadspoort uitgegaan het; en almal wat manlik was, is besny, almal wat uit sy stadspoort uitgegaan het.
IN dié tyd het die HERE vir Josua gesê: Maak vir jou klipmesse en besny weer die kinders van Israel vir die tweede keer. Toe het Josua vir hom klipmesse gemaak en die kinders van Israel besny by die heuwel van die voorhuide. En dit is die rede dat Josua hulle besny het: Die hele volk wat uit Egipte uitgetrek het, die manspersone, al die krygsmanne, het op pad in die woestyn gesterwe, op hulle trek uit Egipte. Want die hele volk wat uitgetrek het, was besnede; maar die hele volk wat op pad in die woestyn gebore is, op hulle trek uit Egipte, het hulle nie besny nie. Want veertig jaar lank het die kinders van Israel in die woestyn getrek, totdat die hele volk omgekom het, die krygsmanne wat uit Egipte weggetrek het, wat nie aan die stem van die HERE gehoorsaam was nie; vir wie die HERE gesweer het dat Hy hulle die land nie sou laat sien wat die HERE hulle vaders met ’n eed beloof het om aan ons te gee nie—’n land wat oorloop van melk en heuning. Maar in hulle plek het Hy hul seuns gestel; dié het Josua besny; want hulle was onbesnede, omdat hulle op pad nie besny is nie. En toe die hele volk klaar besny is, het hulle op hul plek in die laer gebly totdat hulle gesond was. Toe het die HERE vir Josua gesê: Vandag het Ek die smaad van Egipte van julle afgewentel. Daarom het hulle dié plek Gilgal genoem tot vandag toe.
Paulus wou hê dat hy saam met hom op reis sou gaan, en hy het hom geneem en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was; want hulle het almal geweet dat sy vader ’n Griek was.
Want die besnydenis is wel nuttig as jy die wet onderhou; maar as jy ’n oortreder van die wet is, het jou besnydenis onbesnedenheid geword. As die onbesnedene dan die verordeninge van die wet onderhou, sal sy onbesnedenheid dan nie as besnydenis gereken word nie? En sal hy wat van nature onbesnede is en die wet volbring, jou nie oordeel wat ondanks letter en besnydenis ’n oortreder van die wet is nie? Want nie hý is ’n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ’n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.
Hierdie saligspreking dan, sien dit op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Want ons sê: Aan Abraham is die geloof tot geregtigheid gereken. Hoe is dit dan toegereken — toe hy besnede of onbesnede was? Nie as besnedene nie, maar as onbesnedene. En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ’n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word; en ook ’n vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham toe hy onbesnede was.
Is iemand as ’n besnedene geroep — hy moet die besnydenis nie laat verander nie; is iemand as onbesnedene geroep — hy moet hom nie laat besny nie. Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God.