Toe verskyn God weer aan Jakob, by sy terugkoms uit Paddan-Aram, en Hy seën hom; en God sê vir hom: Jou naam is Jakob; jy sal verder nie Jakob genoem word nie, maar Israel sal jou naam wees. En Hy het hom Israel genoem. Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. ’n Nasie, ja, ’n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom. En die land wat Ek aan Abraham en Isak gegee het, sal Ek aan jou gee; en aan jou nageslag ná jou sal Ek die land gee. Toe het God van hom af opgevaar op die plek waar Hy met hom gespreek het. En Jakob het ’n gedenksteen opgerig op die plek waar Hy met hom gespreek het, ’n gedenksteen van klip, en daarop ’n drankoffer uitgegiet en olie daarop gegooi. En Jakob het die plek waar God met hom gespreek het, Bet-el genoem.
Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur ’n gesig My aan hom bekend maak, deur ’n droom sal Ek met hom spreek. So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE. Waarom het julle dan nie gevrees om teen my kneg, teen Moses, te spreek nie?
Daarop steek die Engel van die HERE die punt van die staf wat in sy hand was, uit en raak die vleis en die ongesuurde koeke aan; toe gaan daar vuur op uit die rots en verteer die vleis en die ongesuurde koeke. Intussen het die Engel van die HERE verdwyn uit sy oë.
toe die vlam van die altaar opstyg na bo, het die Engel van die HERE in die vlam van die altaar opgevaar; en Manóag en sy vrou het dit gesien en met hulle aangesig op die grond geval.