En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie—dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek.
En op die pad in die herberg het die HERE hom teëgekom en wou hom doodmaak. Toe neem Sippóra ’n skerp klip en sny die voorhuid van haar seun af en gooi dit voor sy voete en sê: Waarlik, jy is vir my ’n bloedbruidegom! En Hy het hom laat staan. Toe het sy gesê: Bloedbruidegom!—met die oog op die besnydenis.
Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word. ... Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie. Want elkeen wat iets eet met suurdeeg in, dié siel moet uit die vergadering van Israel uitgeroei word, of hy al ’n vreemdeling is of ’n kind van die land.
Elkeen wat so iets meng of iets daarvan aan ’n onbevoegde laat kom, moet uit sy volksgenote uitgeroei word. ... Elkeen wat so iets maak om daaraan te ruik, moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
Maar die een wat vleis eet van die dankoffer wat die HERE toekom, terwyl sy onreinheid aan hom is, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word. En as iemand aan iets onreins raak, aan die onreinheid van ’n mens of aan ’n onrein dier of aan enige onrein verfoeisel, en dan eet van die vleis van die dankoffer wat die HERE toekom, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word. ... Want elkeen wat vet eet van die vee waarvan hulle aan die HERE ’n vuuroffer bring, diegene wat dit eet, moet uit sy volksgenote uitgeroei word. ... Elkeen wat maar enigsins bloed eet, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word.
En hy wat dit eet, moet sy ongeregtigheid dra, want wat heilig is aan die HERE, het hy ontheilig. Daarom moet dié siel uit sy volksgenote uitgeroei word.
Maar die siel wat iets moedswillig doen, van die kinders van die land of van die vreemdelinge, hy versmaad die HERE; en dié siel moet uitgeroei word onder sy volk uit. Want die woord van die HERE het hy verag en sy gebod verbreek. Dié siel moet sekerlik uitgeroei word; sy ongeregtigheid is op hom.
IN dié tyd het die HERE vir Josua gesê: Maak vir jou klipmesse en besny weer die kinders van Israel vir die tweede keer. Toe het Josua vir hom klipmesse gemaak en die kinders van Israel besny by die heuwel van die voorhuide. En dit is die rede dat Josua hulle besny het: Die hele volk wat uit Egipte uitgetrek het, die manspersone, al die krygsmanne, het op pad in die woestyn gesterwe, op hulle trek uit Egipte. Want die hele volk wat uitgetrek het, was besnede; maar die hele volk wat op pad in die woestyn gebore is, op hulle trek uit Egipte, het hulle nie besny nie. Want veertig jaar lank het die kinders van Israel in die woestyn getrek, totdat die hele volk omgekom het, die krygsmanne wat uit Egipte weggetrek het, wat nie aan die stem van die HERE gehoorsaam was nie; vir wie die HERE gesweer het dat Hy hulle die land nie sou laat sien wat die HERE hulle vaders met ’n eed beloof het om aan ons te gee nie—’n land wat oorloop van melk en heuning. Maar in hulle plek het Hy hul seuns gestel; dié het Josua besny; want hulle was onbesnede, omdat hulle op pad nie besny is nie. En toe die hele volk klaar besny is, het hulle op hul plek in die laer gebly totdat hulle gesond was. Toe het die HERE vir Josua gesê: Vandag het Ek die smaad van Egipte van julle afgewentel. Daarom het hulle dié plek Gilgal genoem tot vandag toe. Terwyl die kinders van Israel by Gilgal gelaer was, het hulle die pasga gehou op die veertiende dag van die maand in die aand, in die vlaktes van Jérigo. En hulle het die dag ná die pasga van die opbrings van die land geëet: ongesuurde brode en gebraaide koring, daardie selfde dag. En die dag nadat hulle van die opbrings van die land geëet het, het die manna opgehou, sodat die kinders van Israel verder geen manna gehad het nie; maar hulle het geëet van die opbrings van die land Kanaän in daardie jaar.
hulle het teruggekeer na die ongeregtighede van hulle voorvaders wat geweier het om na my woorde te luister, en agter ander gode aan geloop om dié te dien. Die huis van Israel en die huis van Juda het my verbond verbreek wat Ek met hulle vaders gesluit het.
nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE.
Wie dan op onwaardige wyse hierdie brood eet of die beker van die Here drink, sal skuldig wees aan die liggaam en bloed van die Here. ... Want wie op onwaardige wyse eet en drink, eet en drink ’n oordeel oor homself, terwyl hy die liggaam van die Here nie onderskei nie.