Diensknegte, wees gehoorsaam aan julle here na die vlees, met vrees en bewing, in opregtheid van julle hart, soos aan Christus; nie met oëdiens soos mensebehaers nie, maar soos diensknegte van Christus wat die wil van God van harte doen
DIENSKNEGTE, wees julle here onderdanig met alle vrees, nie alleen aan die wat goed en vriendelik is nie, maar ook aan die wat verkeerd is. Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly. Want watter roem is daar as julle verdra wanneer julle sonde doen en geslaan word? Maar as julle verdra wanneer julle goed doen en ly — dit is genade by God. Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg; Hy wat geen sonde gedoen het nie, en in wie se mond geen bedrog gevind is nie; wat, toe Hy uitgeskel is, nie terug uitgeskel het nie; toe Hy gely het, nie gedreig het nie, maar dit oorgegee het aan Hom wat regverdig oordeel; wat self ons sondes in sy liggaam op die kruishout gedra het, sodat ons die sondes kan afsterwe en vir die geregtigheid lewe; deur wie se wonde julle genees is. Want julle was soos dwalende skape, maar nou het julle teruggekeer na die Herder en Opsiener van julle siele.
Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd.