Ook sê die Engel van die HERE vir haar: Kyk, jy is swanger en sal ’n seun baar, en jy moet hom Ismael noem, want die HERE het jou in jou ellende verhoor.
Want daar is geskrywe dat Abraham twee seuns gehad het, een uit die slavin en een uit die vrye. Maar die een uit die slavin is gebore na die vlees, en die ander een uit die vrye deur die belofte.
En Abraham sê aan God: Ag, mag Ismael lewe voor u aangesig! ... Ook wat Ismael aangaan, het Ek jou verhoor. Kyk, Ek seën hom en maak hom vrugbaar en vermeerder hom buitengewoon. Twaalf vorste sal hy verwek, en Ek sal hom ’n groot nasie maak. ... En sy seun Ismael was dertien jaar oud toe hy aan die vlees van sy voorhuid besny is. Op daardie selfde dag is Abraham en sy seun Ismael besny
Toe sien Sara hoe die seun van Hagar, die Egiptiese slavin, wat sy vir Abraham gebaar het, spot; en sy sê aan Abraham: Jaag hierdie slavin en haar seun weg, want die seun van hierdie slavin mag nie saam met my seun Isak erwe nie. En die woord was baie verkeerd in die oë van Abraham vanweë sy seun. Maar God het aan Abraham gesê: Laat dit nie verkeerd wees in jou oë ter wille van die seun en van jou slavin nie. Luister na Sara in alles wat sy van jou verlang, want deur Isak sal daar vir jou ’n nageslag genoem word. Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot ’n nasie maak, omdat hy jou kind is. Toe is Abraham die môre vroeg op, en hy het brood en ’n sak met water geneem en dit aan Hagar gegee deur dit op haar skouer te sit, en ook die kind, en haar weggestuur. Sy het toe weggegaan en rondgedwaal in die woestyn van Berséba. En toe die water in die sak op was, het sy die kind onder een van die bosse neergewerp en geloop en op ’n afstand gaan sit so ver as ’n boog kan skiet; want sy het gesê: Ek wil die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op ’n afstand gaan sit en haar stem verhef en geween. Toe hoor God die stem van die seun, en die Engel van God het na Hagar geroep uit die hemel en haar gevra: Wat is dit met jou, Hagar? Wees nie bevrees nie, want God het na die stem van die seun geluister op die plek waar hy is. Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom ’n groot nasie maak. Daarop het God haar oë geopen, en sy sien ’n put! En sy het geloop en die sak vol water gemaak en die seun laat drink. En God was met die seun; en hy het opgegroei en in die woestyn gewoon en ’n boogskutter geword: hy het in die woestyn Paran gewoon; en sy moeder het vir hom ’n vrou uit Egipteland geneem.
En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê, ... En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het—
Kom, laat ons hom aan die Ismaeliete verkoop, maar laat ons hand nie teen hom wees nie, want hy is ons broer, ons vlees. En sy broers het na hom geluister.