En die Engel van die HERE het haar by ’n fontein in die woestyn gevind, by die fontein op pad na Sur, ... Toe sê die Engel van die HERE vir haar: Gaan terug na jou meesteres en verneder jou onder haar hande. Verder sê die Engel van die HERE vir haar: Ek sal jou nageslag grootliks vermeerder, sodat dit vanweë die menigte nie getel kan word nie.
En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ’n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel.
Daarop vra hy: Laat my tog u heerlikheid sien. Maar Hy antwoord: Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die HERE uitroep; maar Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie. Ook het die HERE gesê: Kyk, hier is ’n plek by My waar jy op die rots kan gaan staan. En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel en jou met my hand oordek totdat Ek verbygegaan het. En as Ek my hand wegneem, sal jy My van agter sien; maar my aangesig kan nie gesien word nie.
En die HERE het neergedaal in die wolk en daar by hom gestaan. En Hy het die Naam van die HERE uitgeroep. En toe die HERE by hom verbygaan, het Hy geroep: HERE, HERE, barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid en trou; wat die goedertierenheid bewaar vir duisende, wat ongeregtigheid en oortreding en sonde vergewe, maar nooit ongestraf laat bly nie; wat die ongeregtigheid van die vaders besoek aan die kinders en aan die kindskinders, aan die derde en aan die vierde geslag.
VIR die musiekleier. ’n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al. U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie. Waar sou ek heengaan van u Gees en waarheen vlug van u aangesig? Klim ek op na die hemel, U is daar; en maak ek die doderyk my bed, kyk, U is daar! Neem ek die vleuels van die dageraad, gaan ek by die uiteinde van die see woon, ook daar sou u hand my lei en u regterhand my vashou. En as ek sê: Mag tog net die duisternis my oorval en die lig nag wees tot my beskutting, dan is selfs die duisternis vir U nie donker nie, en die nag gee lig soos die dag, die duisternis is soos die lig.
As die God van my vader, die God van Abraham en die Vrees van Isak, nie aan my kant was nie—ja, dan sou u my met leë hande weggestuur het. God het my ellende en die moeitevolle arbeid van my hande aangesien en verlede nag geoordeel.