Kruisverwysings → Genesis 16:10

Verder sê die Engel van die HERE vir haar: Ek sal jou nageslag grootliks vermeerder, sodat dit vanweë die menigte nie getel kan word nie.

Engel van die HERE

Genesis 22:15-18
Toe roep die Engel van die HERE vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem. En in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word, omdat jy na my stem geluister het.
Genesis 31:11-13
En die Engel van God sê vir my in die droom: Jakob! En ek antwoord: Hier is ek! En Hy sê: Slaan tog jou oë op en kyk: al die bokramme wat die kleinvee dek, is gestreep, gestippeld en bont, want Ek het alles gesien wat Laban jou aandoen. Ek is die God van Bet-el waar jy die gedenksteen gesalf het, waar jy aan My ’n gelofte gedoen het. Maak jou dan nou klaar, trek weg uit hierdie land en gaan terug na jou geboorteland.
Genesis 32:24-30
Maar Jakob het alleen agtergebly, en ’n Man het met hom geworstel tot dagbreek. En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig, en tog is my lewe gered.
Genesis 48:15-16
En hy het Josef geseën en gesê: Die God voor wie se aangesig my vaders Abraham en Isak gewandel het, die God wat my as Herder my lewe lank gelei het tot vandag toe, die Engel wat my uit elke teëspoed verlos het—mag Hy die seuns seën, en mag deur hulle my naam genoem word en die naam van my vaders Abraham en Isak, en mag hulle vermeerder in die land in menigte.
Eksodus 3:2-6
Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in ’n vuurvlam uit ’n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie! En Moses sê: Laat ek tog nader gaan en hierdie groot verskynsel bekyk, waarom die doringbos nie verbrand nie. Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos en sê: Moses, Moses! En hy antwoord: Hier is ek. En Hy sê: Moenie nader kom nie. Trek jou skoene van jou voete af, want die plek waar jy op staan, is heilige grond. Verder sê Hy: Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob. Toe het Moses sy aangesig verberg, want hy was bevrees om God aan te sien.
Rigters 2:1-3
TOE trek die Engel van die HERE van Gilgal op na Bogim en sê: Ek het julle uit Egipte laat optrek en julle gebring in die land wat Ek julle vaders met ’n eed beloof het, en gesê: Ek sal my verbond met julle in ewigheid nie verbreek nie; maar julle mag geen verbond met die inwoners van hierdie land maak nie; hulle altare moet julle omgooi. Maar julle het nie na my stem geluister nie. Wat het julle nou gedoen? So sê Ek dan ook: Ek sal hulle nie voor julle uit verdrywe nie, sodat hulle vyande vir julle sal wees, en hulle gode ’n strik vir julle.
Rigters 6:11
Toe het die Engel van die HERE gekom en gaan sit onder die terpentynboom wat by Ofra staan, wat aan Joas, die Abiësriet, behoort het, terwyl sy seun Gídeon juis koring uitslaan in die parskuip om dit te beveilig teen die Midianiete.
Rigters 6:16,21-24
Toe sê die HERE vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan. ... Daarop steek die Engel van die HERE die punt van die staf wat in sy hand was, uit en raak die vleis en die ongesuurde koeke aan; toe gaan daar vuur op uit die rots en verteer die vleis en die ongesuurde koeke. Intussen het die Engel van die HERE verdwyn uit sy oë. Toe Gídeon bemerk dat dit die Engel van die HERE was, sê Gídeon: Ag, Here HERE! want ek het die Engel van die HERE gesien van aangesig tot aangesig! Maar die HERE sê vir hom: Vrede vir jou! Vrees nie! Jy sal nie sterwe nie. Toe bou Gídeon daar ’n altaar vir die HERE en noem dit: Die HERE is vrede! Dit staan vandag nog daar by Ofra van die Abiësriete.
Rigters 13:16-22
En die Engel van die HERE antwoord Manóag: Al hou jy My op, Ek sal nie van jou brood eet nie; maar as jy ’n brandoffer wil berei, offer dit dan aan die HERE. Want Manóag het nie geweet dat dit die Engel van die HERE was nie. Daarop vra Manóag die Engel van die HERE: Wat is u naam, dat ons U kan vereer as u woord uitkom? En die Engel van die HERE sê vir hom: Waarom vra jy dan na my naam terwyl hy wonderbaar is? Toe neem Manóag die bokkie en die spysoffer en offer dit op die rots aan die HERE terwyl Hy wonderbaarlik handel voor die oë van Manóag en sy vrou: toe die vlam van die altaar opstyg na bo, het die Engel van die HERE in die vlam van die altaar opgevaar; en Manóag en sy vrou het dit gesien en met hulle aangesig op die grond geval. En die Engel van die HERE het verder nie meer aan Manóag en sy vrou verskyn nie. Daarop bemerk Manóag dat dit die Engel van die HERE was. En Manóag sê vir sy vrou: Ons sal sekerlik sterwe, omdat ons God gesien het.
Jesaja 63:9
In al hulle benoudheid was Hy benoud, en die Engel van sy aangesig het hulle verlos; deur sy liefde en deur sy medelyde het Hý hulle verlos; en Hy het hulle opgehef en hulle gedra, al die dae van die ou tyd.
Hoséa 12:4-6
In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel. Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek. By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek. En HERE God van die leërskare, HERE is sy gedenknaam.
Sagaría 2:8-9
Want so sê die HERE van die leërskare: Hy het my gestuur agter heerlikheid aan na die nasies wat julle uitgebuit het; want wie julle aanraak, raak sý oogappel aan. Want kyk, Ek sal my hand oor hulle swaai, sodat hulle ’n buit word vir hulle knegte. Dan sal julle weet dat die HERE van die leërskare my gestuur het.
Maleagi 3:1
KYK, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ’n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare.
Johannes 1:18
Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.
Handelinge 7:30-38
En toe veertig jaar verby was, het ’n Engel van die Here aan hom verskyn in die woestyn van die berg Sinai, in die vuurvlam van ’n doringbos. En Moses het dit gesien en hom oor die gesig verwonder; en toe hy daarheen gaan om dit te besien, het die stem van die Here tot hom gekom: Ek is die God van jou vaders, die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob. En Moses het begin bewe en nie gewaag om dit te bekyk nie. Toe sê die Here vir hom: Trek die skoene van jou voete af, want die plek waarop jy staan, is heilige grond. Ek het duidelik gesien die mishandeling van my volk wat in Egipte is, en hulle gesug gehoor en neergedaal om hulle te verlos. En nou, kom hier, Ek wil jou na Egipte stuur. Hierdie Moses wat hulle verloën het deur te sê: Wie het jou aangestel as ’n owerste en regter? — hom het God as owerste en verlosser gestuur deur die hand van die Engel wat aan hom verskyn het in die doringbos. Hy het hulle uitgelei en wonders en tekens in Egipteland en in die Rooi See en in die woestyn gedoen, veertig jaar lank. Dit is dié Moses wat aan die kinders van Israel gesê het: Die Here julle God sal vir julle ’n Profeet verwek uit julle broers net soos ek is; na Hom moet julle luister. Dit is hy wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders; hy het die lewende woorde ontvang om aan ons te gee.
1 Timótheüs 6:16
wat alleen onsterflikheid besit en ’n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.

nageslag grootliks vermeerder

Genesis 17:20
Ook wat Ismael aangaan, het Ek jou verhoor. Kyk, Ek seën hom en maak hom vrugbaar en vermeerder hom buitengewoon. Twaalf vorste sal hy verwek, en Ek sal hom ’n groot nasie maak.
Genesis 21:13,16
Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot ’n nasie maak, omdat hy jou kind is. ... en geloop en op ’n afstand gaan sit so ver as ’n boog kan skiet; want sy het gesê: Ek wil die dood van die kind nie aansien nie. En sy het op ’n afstand gaan sit en haar stem verhef en geween.
Genesis 25:12-18
En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het— dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming: die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam en Misma en Duma en Massa, Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma. Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme. En dit is die lewensjare van Ismael: honderd-sewen-en-dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote. En hulle het gewoon van Háwila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig.
Psalms 83:7-8
die tente van Edom en die Ismaeliete, Moab en die Hagareners, Gebal en Ammon, en Ámalek, Filistéa saam met die inwoners van Tirus.