Kruisverwysings → Genesis 15:7

Verder het Hy vir hom gesê: Ek is die HERE wat jou uitgelei het uit Ur van die Chaldeërs om jou hierdie land in besit te gee.

uitgelei het uit Ur

Genesis 11:28-31
En Haran het gesterwe terwyl sy vader Tera nog geleef het, in sy geboorteland, in Ur van die Chaldeërs. En Abram en Nahor het vir hulle vroue geneem. Die naam van Abram se vrou was Sarai, en die naam van Nahor se vrou was Milka, die dogter van Haran, die vader van Milka en die vader van Jiska. En Sarai was onvrugbaar, sy het geen kind gehad nie. En Tera het sy seun Abram geneem en Lot, die seun van Haran, sy kleinseun, en Sarai, sy skoondogter, die vrou van sy seun Abram, en dié het saam met hulle uit Ur van die Chaldeërs getrek om na die land Kanaän te gaan. En hulle het tot by Haran gekom en daar gaan woon.
Genesis 12:1
EN die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys.
Nehemia 9:7
U is die HERE, die God wat Abram uitverkies het en hom uit Ur van die Chaldeërs uitgelei het en sy naam tot Abraham gemaak het.
Handelinge 7:2-4
En hy sê: Broeders en vaders, luister! Die God van die heerlikheid het verskyn aan ons vader Abraham toe hy in Mesopotámië was, voordat hy in Haran gewoon het, en vir hom gesê: Trek uit jou land en uit jou familie, en kom na die land wat Ek jou sal wys. Toe het hy getrek uit die land van die Chaldéërs en in Haran gaan woon; en ná die dood van sy vader het Hy hom daarvandaan laat verhuis na hierdie land waarin julle nou woon.

hierdie land in besit te gee

Genesis 12:7
Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ’n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.
Genesis 13:15-17
want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word. Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee.
Nehemia 9:8
En U het sy hart getrou bevind voor u aangesig, en U het met hom die verbond gesluit om die land te gee van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete en Feresiete en Jebusiete en Girgasiete, om dit aan sy nageslag te gee; en U het u woorde vervul, want U is regverdig.
Psalms 105:11,42,44
met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel. ... Want Hy het gedink aan sy heilige woord, aan Abraham, sy kneg. ... En Hy het aan hulle die lande van die heidene gegee, en wat deur volke met moeite verwerf is, het hulle in besit geneem,
Romeine 4:13
Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof.