Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke: ... Hierdie saligspreking dan, sien dit op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Want ons sê: Aan Abraham is die geloof tot geregtigheid gereken. ... En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken. Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.
Net soos Abraham in God geglo het, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. En die Skrif wat vooruit gesien het dat God die heidene uit die geloof sou regverdig, het vooraf aan Abraham die evangelie verkondig met die woorde: In jou sal al die volke geseën word. Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham. Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe. Maar die wet is nie uit die geloof nie, maar die mens wat hierdie dinge doen, sal daardeur lewe. Christus het ons losgekoop van die vloek van die wet deur vir ons ’n vloek te word — want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat aan ’n hout hang — sodat die seën van Abraham na die heidene kan kom in Christus Jesus, en dat ons die belofte van die Gees deur die geloof kan ontvang.
Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ’n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.
En hy het die teken van die besnydenis ontvang as ’n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word; ... Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken.
naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.