Kruisverwysings → Genesis 15:14

Maar Ek sal ook die nasie oordeel aan wie hulle diensbaar moet wees, en daarna sal hulle uittrek met baie goed.

nasie oordeel

Genesis 46:1-34
EN Israel het weggetrek met alles wat aan hom behoort het, en in Berséba gekom; en hy het offerandes gebring aan die God van sy vader Isak. En God het tot Israel gespreek in naggesigte en gesê: Jakob, Jakob! En hy antwoord: Hier is ek! Toe sê Hy: Ek is God, die God van jou vader. Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want Ek sal jou daar ’n groot nasie maak. Ek sal saam met jou aftrek na Egipte, en Ek sal jou gewis ook weer laat optrek; en Josef sal jou oë toedruk. Daarna het Jakob weggetrek van Berséba af. En die seuns van Israel het hulle vader Jakob met hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai wat Farao gestuur het om hom te vervoer. En hulle het hul vee en besittings geneem wat hulle in die land Kanaän verwerf het, en in Egipte gekom, Jakob en sy hele geslag saam met hom: sy seuns en sy kleinseuns saam met hom; sy dogters en kleindogters en sy hele geslag het hy saam met hom in Egipte gebring. En dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het—Jakob en sy seuns. Die eersgeborene van Jakob was Ruben. En die seuns van Ruben: Henog en Pallu en Hesron en Karmi. En die seuns van Símeon: Jémuel en Jamin en Ohad en Jagin en Sohar en Saul, die seun van die Kanaänitiese vrou. En die seuns van Levi: Gerson, Kehat en Merári. En die seuns van Juda: Er en Onan en Sela en Peres en Serag. Maar Er en Onan het gesterwe in die land Kanaän; en die seuns van Peres was Hesron en Hamul. En die seuns van Íssaskar: Tola en Puwa en Job en Simron. En die seuns van Sébulon: Sered en Elon en Jágleël. Dit is die seuns van Lea wat sy vir Jakob gebaar het in Paddan-Aram, saam met sy dogter Dina; al die siele van sy seuns en dogters was drie-en-dertig. En die seuns van Gad: Sifjon en Haggi, Suni en Esbon, Eri en Aródi en Areëli. En die seuns van Aser: Jimna en Jiswa en Jiswi en Bería en Serag, hulle suster; en die seuns van Bería: Heber en Málkiël. Dit is die seuns van Silpa wat Laban aan sy dogter Lea gegee het; en sy het vir Jakob hierdie sestien siele gebaar. Die seuns van Ragel, die vrou van Jakob: Josef en Benjamin. En vir Josef is in Egipteland gebore Manasse en Efraim wat Ásenat, die dogter van Potiféra, die priester van On, vir hom gebaar het. En die seuns van Benjamin: Bela en Beger en Asbel, Gera en Naäman, Egi en Ros, Muppim en Huppim en Ard. Dit is die seuns van Ragel wat vir Jakob gebore is, almal saam veertien siele. En die seuns van Dan: Husim. En die seuns van Náftali: Jágseël en Guni en Jeser en Sillem. Dit is die seuns van Bilha wat Laban aan sy dogter Ragel gegee het; en sy het hulle vir Jakob gebaar, almal saam sewe siele. Al die siele wat aan Jakob behoort het en, uit sy heup afkomstig, na Egipte gegaan het, behalwe die vroue van die seuns van Jakob, was almal saam ses-en-sestig siele. En die seuns van Josef wat vir hom in Egipte gebore is, was twee siele. Al die siele van die huis van Jakob wat in Egipte gekom het, was sewentig. En hy het Juda voor hom uit gestuur na Josef, dat dié voor hom uit die pad moes wys na Gosen; en hulle het in die land Gosen aangekom. Toe span Josef sy wa in, en hy trek op, sy vader Israel tegemoet na Gosen. En toe hy homself aan hom vertoon, het hy om sy hals geval en lank aan sy hals geween. En Israel sê vir Josef: Nou kan ek sterwe nadat ek jou aangesig gesien het, dat jy nog leef! Daarna het Josef met sy broers en die huis van sy vader gespreek: Ek sal optrek en aan Farao vertel en aan hom sê: My broers en die huis van my vader wat in die land Kanaän was, het na my gekom. En die manne is herders van kleinvee—want hulle was veeboere—en hulle het hul kleinvee en hul beeste en alles wat hulle besit, saamgebring. En as Farao julle laat roep en sê: Wat is julle nering? dan moet julle antwoord: U dienaars was veeboere van ons jeug af tot nou toe, ons sowel as ons vaders—sodat julle in die land Gosen kan woon. Want elke herder van kleinvee is vir die Egiptenaars ’n gruwel.
Eksodus 6:4-5
en Ék het ook gehoor die gekerm van die kinders van Israel wat deur die Egiptenaars in slawerny gehou word, en Ek het aan my verbond gedink. Daarom, sê aan die kinders van Israel: Ek is die HERE, en Ek sal julle onder die harde arbeid van die Egiptenaars uitlei en julle red uit hulle slawerny, en Ek sal julle verlos deur ’n uitgestrekte arm en deur groot strafgerigte;
Eksodus 7:1-14
EN die HERE het aan Moses gesê: Kyk, Ek stel jou as ’n god vir Farao, en jou broer Aäron sal jou profeet wees. Jý moet spreek alles wat Ek jou beveel, en jou broer Aäron moet met Farao spreek, sodat hy die kinders van Israel uit sy land laat uittrek. En Ék sal Farao se hart verhard en my tekens en wonders in Egipteland vermenigvuldig. Maar Farao sal na julle nie luister nie; en Ek sal my hand op Egipte lê en my leërskare, my volk, die kinders van Israel, deur groot strafgerigte uit Egipteland uitlei. Dan sal die Egiptenaars weet dat Ek die HERE is, as Ek my hand oor Egipte uitstrek en die kinders van Israel tussen hulle uitlei. Moses en Aäron het toe gedoen soos die HERE hulle beveel het; so het hulle gedoen. En Moses was tagtig jaar en Aäron drie-en-tagtig jaar oud toe hulle met Farao gespreek het. En die HERE het Moses en Aäron aangespreek met die woorde: As Farao met julle spreek en sê: Doen tog ’n wonderteken vir julleself—dan moet jy vir Aäron sê: Neem jou staf en gooi dit voor Farao neer; dan sal dit ’n slang word. Toe het Moses en Aäron na Farao gegaan en gedoen net soos die HERE hulle beveel het: Aäron het sy staf voor Farao en voor sy dienaars neergegooi, en dit het ’n slang geword. Daarop laat Farao óók die wyse manne en die towenaars roep; en hulle, die Egiptiese towenaars, het ook dieselfde gedoen met hulle towerkunste: elkeen gooi sy staf neer, en hulle word slange! Maar Aäron se staf het hulle stawe verslind. Maar Farao se hart was verhard, sodat hy na hulle nie geluister het nie soos die HERE gespreek het. TOE sê die HERE vir Moses: Farao se hart is verhard; hy weier om die volk te laat trek.
Deuteronómium 4:20
Maar die HERE het julle geneem en julle uit die ystersmeltoond, uit Egipte, uitgelei om sy erfvolk te wees soos dit vandag is.
Deuteronómium 6:22
En die HERE het groot en onheilbrengende tekens en wonders voor ons oë in Egipte aan Farao en sy hele huis gedoen.
Deuteronómium 7:18-19
wees dan nie bevrees vir hulle nie; dink gedurig aan wat die HERE jou God aan Farao en die hele Egipte gedoen het, die groot versoekinge wat jou oë gesien het, en die tekens en die wonders en die sterke hand en die uitgestrekte arm waardeur die HERE jou God jou uitgelei het; so sal die HERE jou God aan al die volke doen vir wie jy bevrees is.
Deuteronómium 11:2-4
En julle moet vandag weet dat ek nie spreek tot julle kinders wat die onderwysing van die HERE julle God nie geweet en nie gesien het nie: sy grootheid, sy sterke hand en sy uitgestrekte arm en sy tekens en sy dade wat Hy in Egipte gedoen het aan Farao, die koning van Egipte, en aan sy hele land; en wat Hy gedoen het aan die leër van Egipte, aan sy perde en aan sy strydwaens waaroor Hy die waters van die Skelfsee laat aanstroom het toe hulle julle agtervolg het, sodat die HERE hulle omgebring het tot vandag toe;
Josua 24:4-7,17
en aan Isak het Ek Jakob en Esau gegee, en aan Esau het Ek die gebergte Seïr gegee, om dit in besit te neem; maar Jakob en sy kinders het na Egipte afgetrek. Toe het Ek Moses en Aäron gestuur en Egipte getref soos Ek dit daar gedoen het, en daarna het Ek julle uitgelei. Toe Ek julle vaders uit Egipte uitgelei het, het julle by die see gekom; maar die Egiptenaars het julle vaders agternagejaag met strydwaens en perderuiters na die Skelfsee toe; maar hulle het die HERE aangeroep, en Hy het ’n duisternis gestel tussen julle en die Egiptenaars en die see oor hulle laat kom, sodat dit hulle oordek het, en julle eie oë het gesien wat Ek aan Egipte gedoen het. Daarna het julle baie dae in die woestyn gebly. ... want die HERE onse God, dit is Hy wat ons en ons vaders uit Egipteland uit die slawehuis laat optrek het, en wat voor ons oë hierdie groot tekens gedoen het en ons bewaar het op die hele pad wat ons gegaan en onder al die volke waar ons dwarsdeur getrek het;
1 Samuel 12:8
Nadat Jakob in Egipte gekom en julle vaders die HERE aangeroep het, het die HERE Moses en Aäron gestuur; en hulle het julle vaders uit Egipte gelei, en Hy het hulle op hierdie plek laat woon.
Nehemia 9:9-11
En U het die ellende van ons vaders in Egipte aangesien en hulle geroep by die Skelfsee gehoor, en U het tekens en wonders gedoen aan Farao en aan al sy dienaars en aan die hele volk van sy land; want U het geweet dat hulle vermetel teen hulle gehandel het, en U het vir U ’n Naam gemaak soos dit vandag is. En die see het U voor hulle geklowe, sodat hulle op droë grond dwarsdeur die see getrek het; maar hulle vervolgers het U in die kolke gewerp soos ’n klip in sterk waters.
Psalms 51:6
Teen U alleen het ek gesondig en gedoen wat verkeerd is in u oë, sodat U regverdig kan wees as U spreek, rein as U gerig hou.
Psalms 78:43-51
toe Hy sy tekens gedoen het in Egipte en sy wonders in die veld van Soan. En Hy het hulle riviere verander in bloed en hulle strome, sodat hulle nie kon drink nie. Hy het onder hulle steekvlieë gestuur wat hulle verteer het, en paddas wat verwoesting oor hulle gebring het. En Hy het hulle opbrings aan die kaalvreter gegee en die vrug van hulle werk aan die treksprinkaan. Hy het hulle wingerdstok deur die hael doodgemaak en hulle wildevyeboom deur ryp. Ook het Hy hulle diere aan die hael oorgegee en hulle vee aan die blitse. Hy het die gloed van sy toorn onder hulle gestuur, grimmigheid en woede en benoudheid, ’n uitsending van ongeluksbodes. Hy het ’n pad vir sy toorn gebaan, hulle siel nie gered van die dood nie, maar hulle lewe aan die pes oorgegee. En Hy het al die eersgeborenes in Egipte getref, die eerstelinge van hul krag in die tente van Gam.
Psalms 105:27-37
Dié het onder hulle sy aangekondigde tekens gedoen en wonders in die land van Gam. Hy het duisternis gestuur en dit donker gemaak; en hulle was teen sy woorde nie wederstrewig nie. Hy het hulle waters verander in bloed en hulle visse laat sterwe. Hulle land het gewemel van paddas, in die kamers van hulle konings. Hy het gespreek, en daar het steekvlieë gekom, muskiete in hulle hele grondgebied. Hy het hulle reëns hael gemaak, vuurvlamme in hulle land. En Hy het hulle wingerdstok en hulle vyeboom geslaan en die bome van hulle grondgebied verbreek. Hy het gespreek, en daar het sprinkane gekom en voetgangers sonder getal, wat al die plante in hulle land opgeëet het, ja, opgeëet het die vrugte van hulle grond. Hy het ook al die eersgeborenes in hulle land getref, die eerstelinge van al hulle krag. Toe het Hy hulle laat uitgaan met silwer en goud, en onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie.
Psalms 135:9,14
wat tekens en wonders gestuur het binne-in jou, o Egipte, teen Farao en teen al sy knegte; ... Want die HERE sal aan sy volk reg doen en medelyde hê met sy knegte.

uittrek met baie goed

Eksodus 3:21-22
En Ek sal aan hierdie volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars; en as julle dan trek, moet julle nie met leë hande trek nie, maar elke vrou moet van haar buurvrou en van haar wat in haar huis vertoef, silwer- en goue voorwerpe en klere eis. En julle moet dit op julle seuns en dogters sit, en so Egipte berowe.
Eksodus 12:35-36
En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis; en die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe.
Psalms 105:37
Toe het Hy hulle laat uitgaan met silwer en goud, en onder sy stamme was daar niemand wat struikel nie.