Kruisverwysings → Genesis 15:13

Daarop sê Hy vir Abram: Weet vir seker dat jou nageslag vreemdelinge sal wees in die land wat aan hulle nie behoort nie; daar sal hulle diensbaar wees en verdruk word vierhonderd jaar lank.

nageslag vreemdelinge

Genesis 17:8
En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as ’n ewige besitting; en Ek sal vir hulle ’n God wees.
Eksodus 1:1-2
EN dit is die name van die seuns van Israel wat in Egipte gekom het; saam met Jakob het hulle gekom, elkeen met sy huisgesin: Ruben, Símeon, Levi en Juda;
Eksodus 5:1-23
EN daarna gaan Moses en Aäron en sê vir Farao: So spreek die HERE, die God van Israel: Laat my volk trek, dat hulle vir My ’n fees kan hou in die woestyn. Maar Farao antwoord: Wie is die HERE na wie se stem ek moet luister om Israel te laat trek? Ek ken die HERE nie, en ek sal Israel ook nie laat trek nie. Toe sê hulle: Die God van die Hebreërs het ons ontmoet; laat ons tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die HERE onse God offer, sodat Hy ons nie tref met die pes of die swaard nie. Maar die koning van Egipte antwoord hulle: Moses en Aäron, waarom hou julle die volk van hulle werk af? Loop na julle werk toe. Verder het Farao gesê: Kyk, die volk van die land is alreeds baie; en julle wil hulle laat ophou met hulle werk? Daarom het Farao dieselfde dag aan die drywers onder die volk en die opsigters bevel gegee en gesê: Julle moet die volk geen strooi meer gee om bakstene te maak soos gister en eergister nie. Laat hulle self gaan en vir hulle strooi versamel. Maar die hoeveelheid bakstene wat hulle gister en eergister gemaak het, moet julle hulle oplê en niks daarvan verminder nie; want hulle is lui. Daarom roep hulle en sê: Laat ons gaan, laat ons offer aan onse God! Laat die werk swaar druk op die manne, dat hulle daarmee besig kan wees en nie op leuenagtige woorde let nie. Toe het die drywers van die volk en die opsigters uitgegaan en tot die volk gespreek en gesê: So spreek Farao: Ek gee julle geen strooi nie. Loop haal self vir julle strooi waar julle dit kan kry; maar van julle werk word niks verminder nie. Toe het die volk in die hele Egipteland rondgegaan om stoppels te versamel vir strooi. En die drywers het aangedryf en gesê: Voltooi julle werk volgens die eis van elke dag net soos toe daar strooi was. En die opsigters van die kinders van Israel wat Farao se drywers oor hulle aangestel het, het slae gekry, met die woorde: Waarom het julle gister en vandag nie soos tevore julle bepaalde werk, om stene te maak, volbring nie? Daarom het die opsigters van die kinders van Israel gegaan, en hulle het geweeklaag by Farao en gesê: Waarom maak u so met u dienaars? Aan u dienaars word geen strooi gegee nie, en hulle sê vir ons: Maak bakstene! En kyk, u dienaars word geslaan, maar die skuld lê by u volk. Maar hy het geantwoord: Lui is julle, lui! Daarom sê julle: Laat ons gaan, laat ons aan die HERE offer. Nou dan, loop werk! Maar strooi sal julle nie gegee word nie. Ewenwel moet julle die hoeveelheid bakstene aflewer. Toe sien die opsigters van die kinders van Israel dat dit sleg met hulle staan, omdat daar gesê is: Julle mag jul bakstene, volgens die eis van elke dag, nie verminder nie. En hulle het Moses en Aäron teëgekom, wat daar gestaan het om hulle te ontmoet as hulle van Farao af weggaan, en het vir hulle gesê: Mag die HERE op julle let en oordeel, omdat julle ons gehaat gemaak het in die oë van Farao en in die oë van sy dienaars, sodat julle ’n swaard in hulle hand gegee het om ons om te bring. TOE gaan Moses weer na die HERE en sê: Here, waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen? Waarom het U my tog gestuur? Want vandat ek na Farao gegaan het om in u Naam te spreek, het hy hierdie volk mishandel, en U het u volk glad nie verlos nie.
Eksodus 22:21
Jy mag ook die vreemdeling nie kwel of hom verdruk nie, want julle was vreemdelinge in Egipteland.
Eksodus 23:9
Jy mag die vreemdeling ook nie verdruk nie; want julle ken self die gemoed van ’n vreemdeling, omdat julle vreemdelinge in Egipteland gewees het.
Levitikus 19:34
Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ’n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland. Ek is die HERE julle God.
Deuteronómium 10:19
Daarom moet julle die vreemdeling liefhê, want julle was vreemdelinge in Egipteland.
Psalms 105:11
met die woorde: Ek sal aan jou die land Kanaän gee, julle aangewese erfdeel.
Psalms 105:12,23-25
Toe hulle min mense was, min en vreemdelinge daarin, ... Toe het Israel na Egipte gekom, en Jakob het as vreemdeling vertoef in die land van Gam. En Hy het sy volk baie vrugbaar gemaak en dit meer versterk as sy teëstanders. Hy het hulle hart verander, om sy volk te haat, om listig teen sy knegte te handel.
Handelinge 7:6-7
En God het aan hom dít gesê, dat sy nageslag bywoners in ’n vreemde land sou wees en die mense hulle tot slawe sou maak en mishandel, vierhonderd jaar lank. En die nasie aan wie hulle diensbaar sal wees, sal Ek oordeel, het God gesê; en daarna sal hulle uittrek en My in hierdie plek dien.
Hebreërs 11:8-13
Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ’n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom. Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ’n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte. Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is. Deur die geloof het Sara self ook krag ontvang om bevrug te word; en toe sy oor die leeftyd was, het sy gebaar, omdat sy Hom getrou geag het wat dit beloof het. Daarom is daar ook gebore uit een vader, en dit ’n verstorwene, kinders soos sterre van die hemel in menigte en soos die sand aan die strand van die see, wat ontelbaar is. In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.

vierhonderd jaar

Eksodus 12:40-41
En die tyd wat die kinders van Israel in Egipte gewoon het, was vierhonderd-en-dertig jaar. En ná verloop van vierhonderd-en-dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek.
Galásiërs 3:17
Maar ek sê dít: die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie.