Kruisverwysings → Genesis 14:7

Daarop het hulle omgedraai en by En-Mispat, dit is Kades, gekom en die hele land van die Amalekiete verower en ook die Amoriete wat in Háseson-Tamar woon.

Kades

Genesis 16:14
Daarom noem hulle die put: Put van Lagai-Roï. Dit lê daar tussen Kades en Bered.
Genesis 20:1
EN Abraham het daarvandaan weggetrek na die Suidland en gaan woon tussen Kades en Sur en in Gerar as vreemdeling vertoef.
Númeri 20:1
EN toe die kinders van Israel, die hele vergadering, in die woestyn Sin kom, in die eerste maand, het die volk in Kades gebly. En Mirjam het daar gesterwe en is daar begrawe.
Deuteronómium 1:19,46
Toe het ons van Horeb af opgebreek, en ons het daardie hele groot en vreeslike woestyn deurgetrek wat julle op pad na die gebergte van die Amoriete gesien het, soos die HERE onse God ons beveel het; en ons het tot by Kades-Barnéa gekom. ... So het julle dan baie dae in Kades gebly, solank as julle daar gebly het.

Amalekiete

Genesis 36:12,16
En Timna was ’n byvrou van Élifas, die seun van Esau; en sy het vir Élifas gebaar Ámalek. Dit is die seuns van Ada, die vrou van Esau. ... die stamhoof Korag, die stamhoof Gáetam, die stamhoof Ámalek. Dit is die stamhoofde van Élifas in die land Edom; dit is die seuns van Ada.
Eksodus 17:8-16
DAAROP het Ámalek gekom om teen Israel by Ráfidim te veg. En Moses het aan Josua gesê: Kies vir ons manne en trek uit, veg teen Ámalek. Môre sal ek op die top van die heuwel staan met die staf van God in my hand. En Josua het gedoen soos Moses aan hom gesê het, om te veg teen Ámalek. Maar Moses, Aäron en Hur het op die top van die heuwel geklim. En telkens as Moses sy hand ophou, was Israel die sterkste; maar as hy sy hand laat sak, was Ámalek die sterkste. Maar die hande van Moses het swaar geword; daarom het hulle ’n klip geneem en dit onder hom neergelê, dat hy daarop kon sit. En Aäron en Hur het sy hande ondersteun, die een duskant en die ander anderkant. So het sy hande dan vas gebly tot sononder. En Josua het Ámalek en sy volk met die skerpte van die swaard ’n neerlaag toegebring. Toe sê die HERE vir Moses: Skrywe dit as ’n aandenking in ’n boek en prent dit Josua in, dat Ek die gedagtenis van Ámalek onder die hemel heeltemal sal uitdelg. En Moses het ’n altaar gebou en dit genoem: Die HERE is my banier. En hy het gesê: Waarlik, die hand op die troon van die HERE! Oorlog het die HERE teen Ámalek van geslag tot geslag.
Númeri 14:43,45
Want die Amalekiete en die Kanaäniete is daar voor julle, en julle sal deur die swaard val; omdat julle van die HERE afvallig geword het, daarom sal die HERE nie met julle wees nie. ... Toe het die Amalekiete en die Kanaäniete wat in dié gebergte woonagtig was, afgekom en hulle verslaan en hulle verstrooi tot by Horma.
Númeri 24:20
Toe hy Ámalek sien, het hy sy spreuk aangehef en gesê: Ámalek is die eersteling van die heidene, maar sy einde is ondergang.
1 Samuel 15:1-35
TOE sê Samuel vir Saul: Die HERE het my gestuur om jou as koning te salf oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die woorde van die HERE. So sê die HERE van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Ámalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte. Gaan nou en verslaan Ámalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel. Daarop het Saul die manskappe opgeroep en hulle gemonster in Teláim: tweehonderdduisend voetgangers en tienduisend man van Juda. En toe Saul by die stad van Ámalek aankom en in die dal ’n hinderlaag opstel, sê Saul vir die Keniete: Gaan weg, verwyder julle, trek af onder die Amalekiete uit, dat ek julle nie met hulle saam wegruim nie; want julle het guns bewys aan al die kinders van Israel by hulle optog uit Egipte. Toe het die Keniete hulle verwyder onder die Amalekiete uit. En Saul het die Amalekiete verslaan van Hawíla af in die rigting van Sur wat oos van Egipte lê. En Agag, die koning van Ámalek, het hy lewendig gevang, maar die hele volk deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref. Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was—dit wou hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle was, dit het hulle met die banvloek getref. En die woord van die HERE het tot Samuel gekom en gesê: Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie. Toe het Samuel kwaad geword en die hele nag deur die HERE aangeroep. Maar die môre vroeg het Samuel hom klaargemaak om Saul te ontmoet. En aan Samuel is meegedeel en gesê: Saul het in Karmel aangekom, en kyk, hy het vir hom ’n gedenkteken opgerig; en hy het weggedraai en verbygegaan en afgetrek na Gilgal. Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: Mag u geseënd wees deur die HERE: ek het die woord van die HERE uitgevoer. Daarop vra Samuel: Maar wat vir ’n geblêr van kleinvee is dit in my ore en ’n gebulk van beeste wat ek hoor? En Saul sê: Van die Amalekiete het hulle dit gebring, want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die HERE u God te offer; maar die ander het ons met die banvloek getref. Toe sê Samuel vir Saul: Hou op, dat ek jou kan meedeel wat die HERE vannag met my gespreek het. En hy antwoord hom: Spreek. En Samuel sê: Is jy, hoewel jy klein was in jou eie oë, nie tog die hoof van die stamme van Israel nie? En die HERE het jou as koning oor Israel gesalf. En die HERE het jou op die pad gestuur en gesê: Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle vernietig is. Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE? Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van die HERE geluister en gegaan op die pad waar die HERE my op gestuur het, en Agag, die koning van Ámalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die HERE u God in Gilgal te offer. Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. Toe sê Saul vir Samuel: Ek het gesondig, omdat ek die bevel van die HERE en u woorde oortree het, want ek was bevrees vir die manskappe en het na hulle geluister. Vergeef dan nou tog my sonde en kom met my saam terug, dat ek die HERE kan aanbid. Maar Samuel sê vir Saul: Ek sal nie met jou saam teruggaan nie, omdat jy die woord van die HERE verwerp het, en nou het die HERE jou verwerp om koning oor Israel te wees. Toe Samuel hom omdraai om weg te gaan, gryp hy die slip van sy mantel, maar dit het afgeskeur. En Samuel sê vir hom: Vandag het die HERE die koningskap oor Israel van jou afgeskeur en dit aan jou naaste gegee wat beter is as jy. En ook lieg die Roem van Israel nie, en Hy ken geen berou nie; want Hy is geen mens, dat Hy berou sou hê nie. En hy sê: Ek het gesondig; eer my tog nou voor die oudstes van my volk en voor Israel, en kom saam met my terug, dat ek die HERE u God kan aanbid. Samuel het toe teruggegaan agter Saul aan, en Saul het die HERE aanbid. Daarop sê Samuel: Bring Agag, die koning van Ámalek, na my toe. Terwyl Agag dan opgeruimd na hom gaan, sê Agag: Waarlik, die bitterheid van die dood het gewyk. Maar Samuel het gesê: Soos jou swaard vroue kinderloos gemaak het, so sal jou moeder onder die vroue kinderloos wees. Daarop het Samuel Agag in stukke gekap voor die aangesig van die HERE in Gilgal. Daarna gaan Samuel na Rama, en Saul het opgegaan na sy huis, na Gíbea van Saul. En Samuel het Saul tot die dag van sy dood nie meer gesien nie, want Samuel het getreur oor Saul; en die HERE het berou gehad dat Hy Saul koning gemaak het oor Israel.
1 Samuel 27:1-12
EN Dawid het by homself gesê: Nou sal ek een van die dae omkom deur die hand van Saul; daar is vir my niks goeds nie, tensy ek dadelik ontsnap na die land van die Filistyne; dan sal Saul die hoop opgee om my langer in die hele grondgebied van Israel te soek, en ek sal uit sy hand ontsnap. Dawid maak toe klaar, en hy saam met die seshonderd man wat by hom was, het deurgetrek na Agis, die seun van Maog, die koning van Gat. En Dawid het by Agis gebly in Gat, hy en sy manne, elkeen met sy huisgesin; Dawid met sy twee vroue, Ahínoam uit Jísreël en Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet. Toe Saul tyding kry dat Dawid na Gat gevlug het, het hy verder nie meer na hom gesoek nie. En Dawid het vir Agis gesê: As ek dan guns in u oë gevind het, laat hulle my tog ’n plek gee in een van die plattelandse stede, dat ek daar kan woon; waarom tog sou u dienaar in die koninklike stad by u woon? Daarop gee Agis dieselfde dag Siklag aan hom; daarom het Siklag aan die konings van Juda behoort tot vandag toe. En die getal dae wat Dawid in die land van die Filistyne gewoon het, was een jaar en vier maande. En Dawid het met sy manne opgetrek, en hulle het die Gesuriete en die Girsiete en die Amalekiete oorval, want hulle was van ouds die bewoners van die land in die rigting van Sur en tot aan Egipteland. En so dikwels as Dawid die land oorval, laat hy geen man of vrou lewe nie, en neem kleinvee en beeste en esels en kamele en klere saam. En as hy teruggaan en by Agis kom, vra Agis: Waar het julle vandag ’n inval gedoen? Dan sê Dawid: In die Suidland van Juda en in die Suid-land van die Jeragmeëliete en in die Suidland van die Keniete. Maar geen man of vrou het Dawid laat lewe om dié na Gat te bring nie, want hy het gedink: Anders sal hulle ons aangee en sê: So het Dawid gehandel. En dit was sy manier al die dae wat hy in die land van die Filistyne gewoon het. En Agis het Dawid vertrou en gesê: Hy het homself vir goed by sy volk, by Israel, gehaat gemaak en sal vir altyd my onderdaan wees.
1 Samuel 30:1-31
EN toe Dawid met sy manne die derde dag by Siklag aankom, het die Amalekiete ’n inval gedoen in die Suidland en in Siklag, en hulle het Siklag verslaan en dit met vuur verbrand. En hulle het die vroue en almal wat daarin was, gevange weggevoer, van die kleinste af tot die grootste toe; hulle het niemand gedood nie, maar hulle weggevoer en verder gegaan. Toe Dawid met sy manne die stad inkom, lê dit daar met vuur verbrand, en hulle vroue en hulle seuns en hulle dogters was as gevangenes weggevoer. Daarop het Dawid en die manskappe wat by hom was, hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie. Ook Dawid se twee vroue, Ahínoam uit Jísreël, en Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet, was as gevangenes weggevoer. En Dawid het dit baie benoud gehad, want die manskappe het gepraat om hom te stenig; want die siel van al die manskappe was verbitterd, elkeen oor sy seuns en sy dogters; maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God. En Dawid sê vir Ábjatar, die priester, die seun van Ahiméleg: Bring tog die skouerkleed vir my hier. Daarop het Ábjatar die skouerkleed na Dawid gebring. En Dawid het die HERE geraadpleeg en gesê: Sal ek hierdie bende agternajaag? Sal ek dit inhaal? En Hy sê vir hom: Agtervolg, want jy sal sekerlik inhaal en sekerlik uitred. Daarop het Dawid weggetrek, hy met die seshonderd man wat by hom was; en toe hulle by die spruit Besor kom, het die origes agtergebly. Dawid het naamlik agtervolg, hy met vierhonderd man, terwyl tweehonderd man agtergebly het wat te moeg was om die spruit Besor deur te trek. Toe vind hulle in die veld ’n Egiptenaar wat hulle na Dawid bring, en hulle gee hom brood om te eet en water om te drink. Daarby gee hulle hom ’n stuk vyekoek en twee rosynekoeke. En toe hy geëet het, het hy weer bygekom; want hy het drie dae en drie nagte geen brood geëet of water gedrink nie. En Dawid vra hom: Aan wie behoort jy? En waar kom jy vandaan? En hy sê: Ek is ’n Egiptiese seun, die slaaf van ’n Amalekitiese man, en my heer het my laat agterbly, omdat ek drie dae gelede siek geword het. Ons het ’n inval gedoen in die Suidland van die Kretiërs en in dié van Juda en in die Suidland van Kaleb, en Siklag met vuur verbrand. En Dawid vra hom: Sal jy my afbring na hierdie bende? En hy sê: Sweer vir my by God dat u my nie sal doodmaak en my nie sal uitlewer in die hand van my heer nie; dan sal ek u afbring na hierdie bende. En toe hy hom afgebring het, lê hulle daar verstrooid oor die oppervlakte van die hele land, besig om te eet en te drink en fees te vier met die ganse groot buit wat hulle uit die land van die Filistyne en uit die land Juda saamgeneem het. En Dawid het hulle verslaan van die aandskemering af tot die aand van die volgende dag, sodat niemand van hulle vrygeraak het nie, behalwe vierhonderd jongmanne wat op kamele gespring en gevlug het. So het Dawid dan alles gered wat die Amalekiete saamgeneem het; ook sy twee vroue het Dawid bevry. Niks van hulle is vermis nie—klein of groot, seuns of dogters, of iets van die buit, niks van alles wat hulle vir hul saamgeneem het nie; Dawid het alles teruggebring. En Dawid het al die kleinvee en beeste afgeneem. Hulle het hul voor die ander vee gedrywe en gesê: Dit is Dawid se buit. Toe Dawid by die tweehonderd man kom wat te moeg was om agter Dawid aan te gaan en wat hulle by die spruit Besor laat bly het, trek hulle uit, Dawid en die manskappe wat by hom was, tegemoet; en Dawid het met die manskappe nader gekom en hulle na die welstand gevra. Daarop het al die slegte mense en die deugniete uit die manne wat met Dawid saamgegaan het, begin sê: Omdat hulle nie met ons saamgegaan het nie, sal ons hulle nie van die buit wat ons afgeneem het, gee nie; maar hulle kan elkeen sy vrou en sy kinders saamneem en weggaan. Maar Dawid het gesê: Julle mag nie so maak nie, my broers, met wat die HERE ons gegee het, en Hy het ons bewaar en die bende wat ons oorval het, in ons hand gegee. En wie sou in hierdie saak na julle luister? Want soos die deel van die wat in die geveg aftrek, so is ook die deel van die wat by die pakgoed bly; gelykop moet hulle deel. So is dit dan van dié dag af en verder gewees; ja, hy het dit as ’n insetting en ’n verordening vir Israel vasgestel tot vandag toe. Toe Dawid dan in Siklag aankom, het hy van die buit aan die oudstes van Juda, sy stamgenote, gestuur en gesê: Hier is ’n geskenk vir julle uit die buit van die vyande van die HERE: aan dié in Bet-el en aan dié in Ramot in die Suidland en aan dié in Jattir en aan dié in Ároër en aan dié in Sifmot en aan dié in Estemóa en aan dié in Ragal en aan dié in die stede van die Jeragmeëliete en aan dié in die stede van die Keniete en aan dié in Horma en aan dié in Bor-Asan en aan dié in Atag en aan dié in Hebron en aan al die plekke waar Dawid, hy en sy manne, rondgetrek het.

Háseson-Tamar

Josua 15:62
en Nibsan en die Soutstad en Éngedi: ses stede met hulle dorpe.
2 Kronieke 20:2
Toe hulle kom en aan Jósafat berig bring en sê: Daar kom ’n groot menigte teen u van anderkant die see, van Edom af, en kyk, hulle is al in Háseson-Tamar—dit is Éngedi —