Kruisverwysings → Genesis 13:16

En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word.

nageslag maak soos die stof van die aarde

Genesis 12:2-3
En Ek sal jou ’n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ’n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.
Genesis 15:5
Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees.
Genesis 17:6,16,20
En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom. ... En Ek sal haar seën en jou uit haar ook ’n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom. ... Ook wat Ismael aangaan, het Ek jou verhoor. Kyk, Ek seën hom en maak hom vrugbaar en vermeerder hom buitengewoon. Twaalf vorste sal hy verwek, en Ek sal hom ’n groot nasie maak.
Genesis 18:18
terwyl Abraham tog sekerlik ’n groot en magtige nasie sal word en al die nasies van die aarde in hom geseën sal word?
Genesis 21:13
Maar Ek sal ook die seun van die slavin tot ’n nasie maak, omdat hy jou kind is.
Genesis 22:17
dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit neem.
Genesis 25:1-34
EN Abraham het weer ’n vrou geneem met die naam van Ketúra. En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar. En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die Assuriete, Letusiete en Leümmiete. En die seuns van Mídian was: Efa en Efer en Henog en Abída en Eldaä. Hulle almal was seuns van Ketúra. En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het, maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland. En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het: honderd-vyf-en-sewentig jaar. Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel. En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê, die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara. Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by die put Lagai-Roï. En dit is die stamboom van Ismael, die seun van Abraham, wat Hagar, die Egiptiese, die slavin van Sara, vir Abraham gebaar het— dit is die name van die seuns van Ismael, hulle name volgens hulle afstamming: die eersgeborene van Ismael, Nébajot; dan Kedar en Adbeël en Mibsam en Misma en Duma en Massa, Hadad en Tema, Jetur, Nafis en Kedma. Dit is die seuns van Ismael, en dit hulle name, in hulle dorpe en laers, twaalf vorste volgens hulle volkstamme. En dit is die lewensjare van Ismael: honderd-sewen-en-dertig jaar; en hy het die asem uitgeblaas en gesterwe, en hy is versamel by sy volksgenote. En hulle het gewoon van Háwila tot by Sur wat oos van Egipte lê in die rigting van Assur. Teenoor al sy broers het hy hom gevestig. EN dit is die geskiedenis van Isak, die seun van Abraham: Abraham was die vader van Isak. En Isak was veertig jaar oud toe hy Rebekka, die dogter van Bétuel, die Arameër uit Paddan-Aram, die suster van Laban, die Arameër, vir hom as vrou geneem het. En Isak het die HERE gesmeek met die oog op sy vrou, want sy was onvrugbaar; en die HERE het hom verhoor, sodat sy vrou Rebekka swanger geword het. En die kinders het teen mekaar gestoot binne-in haar. Toe sê sy: As dit so gaan, waarvoor leef ek dan? Daarop het sy gegaan om die HERE te raadpleeg. En die HERE het haar geantwoord: Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien. En toe haar dae vervul is dat sy moes baar, was daar ’n tweeling in haar skoot. En die eerste is gebore—rooi, geheel en al soos ’n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem. En daarna is sy broer gebore, terwyl sy hand die hakskeen van Esau vashou. Daarom het hulle hom Jakob genoem. En Isak was sestig jaar oud by hulle geboorte. En die seuns het opgegroei: Esau het ’n ervare jagter geword, ’n man van die veld; maar Jakob was ’n vredeliewende man wat in tente gewoon het. En Isak het Esau liefgehad, want wildsvleis was na sy smaak; maar Rebekka het Jakob liefgehad. En Jakob het ’n kooksel klaargemaak, en Esau het moeg uit die veld gekom. Toe sê Esau vir Jakob: Laat my tog sluk van die rooigoed daar, want ek is moeg. Daarom het hulle hom Edom genoem. En Jakob antwoord: Verkoop eers jou eersgeboortereg aan my. En Esau sê: Kyk, ek gaan sterwe, en wat baat die eersgeboortereg my dan? Toe antwoord Jakob: Sweer eers vir my. En hy het vir hom gesweer en sy eersgeboortereg aan Jakob verkoop. En Jakob het aan Esau brood en die kooksel lensies gegee; en hy het geëet en gedrink en opgestaan en weggegaan. So het Esau dan sy eersgeboortereg verag.
Genesis 26:4
En Ek sal jou nageslag vermeerder soos die sterre van die hemel en aan jou nageslag al hierdie lande gee, en in jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word;
Genesis 28:3,14
En mag God, die Almagtige, jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, sodat jy ’n menigte van volke kan word. ... en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word.
Genesis 32:12
U het tog self gesê: Ek sal sekerlik aan jou goed doen en jou nageslag maak soos die sand van die see wat vanweë die menigte nie getel kan word nie.
Genesis 35:11
Verder sê God vir hom: Ek is God, die Almagtige. Wees vrugbaar en vermeerder. ’n Nasie, ja, ’n menigte van nasies, sal van jou afstam, en konings sal uit jou lendene voortkom.
Genesis 36:1-43
EN dit is die geskiedenis van Esau, dit is Edom. Esau het sy vroue geneem uit die dogters van Kanaän: Ada, die dogter van Elon, die Hetiet, en Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die Hewiet; en Basmat, die dogter van Ismael, die suster van Nébajot. En Ada het vir Esau gebaar Élifas, en Basmat het gebaar Réhuel. En Oholibáma het gebaar Jehus en Jáelam en Korag. Dit is die seuns van Esau wat vir hom gebore is in die land Kanaän. Toe neem Esau sy vroue en sy seuns en sy dogters en al die mense van sy huis, sy vee en al sy diere en al sy besittings wat hy in die land Kanaän verwerf het, en hy trek na ’n land, wég van sy broer Jakob af; want hulle besittings was te groot om saam te woon, en die land van hulle vreemdelingskap kon hulle nie dra vanweë hulle vee nie. En Esau het gaan woon in die gebergte Seïr. Esau, dit is Edom. Dit is dan die geskiedenis van Esau, die vader van die Edomiete, in die gebergte Seïr. Dit is die name van die seuns van Esau: Élifas, die seun van Ada, die vrou van Esau; Réhuel, die seun van Basmat, die vrou van Esau. En die seuns van Élifas was: Teman, Omar, Sefo en Gáetam en Kenas. En Timna was ’n byvrou van Élifas, die seun van Esau; en sy het vir Élifas gebaar Ámalek. Dit is die seuns van Ada, die vrou van Esau. En dit is die seuns van Réhuel: Nahat en Serag, Samma en Missa. Dit was die seuns van Basmat, die vrou van Esau. En dit was die seuns van Oholibáma, die dogter van Ana, die dogter van Síbeon, die vrou van Esau—sy het vir Esau gebaar Jehus en Jáelam en Korag. Dit is die stamhoofde onder die seuns van Esau. Die seuns van Élifas, die eersgeborene van Esau, was: die stamhoof Teman, die stamhoof Omar, die stamhoof Sefo, die stamhoof Kenas, die stamhoof Korag, die stamhoof Gáetam, die stamhoof Ámalek. Dit is die stamhoofde van Élifas in die land Edom; dit is die seuns van Ada. En dit is die seuns van Réhuel, die seun van Esau: die stamhoof Nahat, die stamhoof Serag, die stamhoof Samma, die stamhoof Missa. Dit is die stamhoofde van Réhuel in die land Edom. Dit is die seuns van Basmat, die vrou van Esau. En dit is die seuns van Oholibáma, die vrou van Esau: die stamhoof Jehus, die stamhoof Jáelam, die stamhoof Korag. Dit is die stamhoofde van Oholibáma, die dogter van Ana, die vrou van Esau. Dit is die seuns van Esau, en dit is hulle stamhoofde. Dit is Edom. Dit is die seuns van Seïr, die Horiet, die eerste inwoners van die land: Lotan en Sobal en Síbeon en Ana en Dison en Eser en Disan. Dit is die stamhoofde van die Horiete, die seuns van Seïr in die land Edom. En die seuns van Lotan was Hori en Hemam; en die suster van Lotan was Timna. En dit is die seuns van Sobal: Alwan en Manáhat en Ebal, Sefo en Onam. En dit is die seuns van Síbeon: Aja en Ana. Dit is dié Ana wat die warm fonteine in die woestyn gekry het toe hy die esels van sy vader Síbeon opgepas het. En dit is die seuns van Ana: Dison; en Oholibáma was die dogter van Ana. En dit is die seuns van Dison: Hemdan en Esban en Jitran en Keran. Dit is die seuns van Eser: Bilhan en Saäwan en Akan. Dit is die seuns van Disan: Us en Aran. Dit is die stamhoofde van die Horiete: die stamhoof Lotan, die stamhoof Sobal, die stamhoof Síbeon, die stamhoof Ana, die stamhoof Dison, die stamhoof Eser, die stamhoof Disan. Dit is die stamhoofde van die Horiete volgens hulle stamme in die land Seïr. En dit is die konings wat geregeer het in die land Edom voordat daar ’n koning geregeer het oor die kinders van Israel: Bela, die seun van Beor, het geregeer in Edom; en die naam van sy stad was Dinhába. En ná die dood van Bela het Jobab, die seun van Serag, van Bosra, in sy plek geregeer. En ná die dood van Jobab het Husam, uit die land van die Temaniete, in sy plek geregeer. En ná die dood van Husam het Hadad, die seun van Bedad, wat die Midianiete verslaan het in die veld van Moab, in sy plek geregeer, en die naam van sy stad was Awit. En ná die dood van Hadad het Samla van Másreka in sy plek geregeer. En ná die dood van Samla het Saul van Réhobot, aan die rivier, in sy plek geregeer. En ná die dood van Saul het Baäl-Hanan, die seun van Akbor, in sy plek geregeer. En ná die dood van Baäl-Hanan, die seun van Akbor, het Hadar in sy plek geregeer; en die naam van sy stad was Pahu; en die naam van sy vrou was Mehetábeël, die dogter van Matred, die dogter van Mésahab. Dit is die name van die stamhoofde van Esau, volgens hulle geslagte, volgens hulle woonplekke, met hulle name: die stamhoof Timna, die stamhoof Alwa, die stamhoof Jetet, die stamhoof Oholibáma, die stamhoof Ela, die stamhoof Pinon, die stamhoof Kenas, die stamhoof Teman, die stamhoof Mibsar, die stamhoof Mágdiël, die stamhoof Iram. Dit is die stamhoofde van Edom, volgens hulle verblyfplekke in die land van hulle besitting. Dit is Esau, die stamvader van die Edomiete.
Genesis 46:3
Toe sê Hy: Ek is God, die God van jou vader. Moenie bevrees wees om na Egipte af te trek nie, want Ek sal jou daar ’n groot nasie maak.
Eksodus 1:7
Maar die kinders van Israel was vrugbaar en het baie geword, en hulle het vermeerder en buitengewoon magtig geword, sodat die land vol was van hulle.
Eksodus 32:13
Gedenk aan Abraham, Isak en Israel, u knegte, vir wie U by Uself gesweer en aan wie U gesê het: Ek sal julle nageslag vermenigvuldig soos die sterre van die hemel, en hierdie hele land waarvan Ek gespreek het, sal Ek aan julle nageslag gee, dat hulle dit vir ewig kan beërwe.
Númeri 23:10
Wie het die stof van Jakob getel? En wie, volgens getal, die vierde deel van Israel? Laat my sterwe die dood van die opregtes, en laat my einde soos syne wees!
Deuteronómium 1:10
Die HERE julle God het julle vermenigvuldig; en kyk, julle is vandag soos die sterre van die hemel in menigte.
Rigters 6:3,5
Want as Israel gesaai het, dan trek die Midianiete en Amalekiete en die kinders van die Ooste uit, en trek teen hulle op, ... Want hulle het met hul vee en hul tente opgetrek en gekom soos sprinkane in menigte, terwyl hulle en hul kamele ontelbaar was; so het hulle dan die land ingekom om dit te verwoes.
1 Konings 3:8
En u kneg is midde onder u volk wat U verkies het, ’n groot volk wat nie getel of bereken kan word weens die menigte nie.
1 Konings 4:20
Juda en Israel was talryk soos die sand wat aan die seestrand is in menigte; hulle het geëet en gedrink en was bly.
1 Kronieke 21:5
En Joab het die getal van die volkstelling aan Dawid gegee; en die hele Israel was elfhonderdduisend man wat die swaard uittrek, en Juda vierhonderd-en-sewentigduisend man wat die swaard uittrek.
1 Kronieke 27:23
Maar Dawid het die getal van die wat twintig jaar oud was en daaronder, nie laat opneem nie; want die HERE het gesê dat Hy Israel sou vermeerder soos die sterre aan die hemel.
2 Kronieke 17:14-18
En dit was hulle getal volgens hulle families: Van Juda was owerstes oor duisend: die owerste Adna en saam met hom driehonderdduisend dapper helde; en naas hom was die owerste Jóhanan en saam met hom tweehonderd-en-tagtigduisend; en naas hom was Amásia, die seun van Sigri, wat hom gewillig getoon het vir die HERE, en saam met hom tweehonderdduisend dapper helde; en uit Benjamin was Éljada, ’n dapper held, en saam met hom tweehonderdduisend, gewapen met boog en skild; en naas hom was Jósabad en saam met hom honderd-en-tagtigduisend, vir kommando gewapen.
Jesaja 48:18
Ag, as jy maar na my gebooie geluister het, dan sou jou vrede gewees het soos ’n rivier en jou geregtigheid soos die golwe van die see;
Jesaja 48:19
dan sou jou nakomelinge gewees het soos die sand, en die wat uit jou liggaam voortkom, soos die korreltjies daarvan; sy naam sou nie uitgeroei of verdelg word voor my aangesig nie!
Jeremia 33:22
Soos die leër van die hemel nie getel en die sand van die see nie gemeet kan word nie, so sal Ek vermenigvuldig die nageslag van my kneg Dawid, en die Leviete wat My dien.
Romeine 4:16-18
Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal — soos geskrywe is: Ek het jou ’n vader van baie nasies gemaak — voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees.
Hebreërs 11:12
Daarom is daar ook gebore uit een vader, en dit ’n verstorwene, kinders soos sterre van die hemel in menigte en soos die sand aan die strand van die see, wat ontelbaar is.
Openbaring 7:9
NÁ hierdie dinge het ek gesien, en kyk, daar was ’n groot menigte wat niemand kon tel nie, uit alle nasies en stamme en volke en tale; hulle het gestaan voor die troon en voor die Lam, bekleed met wit klere en met palmtakke in hulle hande;