Kruisverwysings → Genesis 13:1

SO het Abram dan uit Egipte na die Suidland opgetrek, hy met sy vrou en sy hele besitting, en Lot saam met hom.

Suidland

Genesis 12:9-20
Daarna het Abram al verder na die Suidland weggetrek. En daar was hongersnood in die land, sodat Abram na Egipte afgetrek het om daar as vreemdeling te vertoef; want die hongersnood was swaar in die land. En toe hy op die punt staan om Egipte in te trek, het hy met sy vrou Sarai gespreek: Kyk, ek weet dat jy ’n vrou is mooi van aansien. As die Egiptenaars jou nou sien, sal hulle sê: Dit is sy vrou—en hulle sal my doodmaak en jou laat lewe. Sê tog jy is my suster, dat dit met my goed kan gaan ter wille van jou en ek om jou ontwil in die lewe kan bly. Toe Abram dan in Egipte gekom het, sien die Egiptenaars dat die vrou baie mooi was. Ook het die vorste van Farao haar gesien en haar by Farao geprys. En die vrou is na die paleis van Farao geneem. En hy het goed gedoen aan Abram om haar ontwil, sodat hy kleinvee en beeste en esels, slawe en slavinne, eselinne en kamele in besit gekry het. Maar die HERE het Farao en sy huis met groot plae besoek ter wille van Sarai, die vrou van Abram. Daarop laat Farao Abram roep en hy sê: Wat het jy my nou aangedoen? Waarom het jy my nie te kenne gegee dat sy jou vrou is nie? Waarom het jy gesê: Sy is my suster—sodat ek haar vir my as vrou geneem het? Daar is jou vrou dan nou; neem haar en gaan weg. En Farao het aan enkele manne aangaande hom bevel gegee, en hulle het hom weggebring met sy vrou en sy hele besitting.
Genesis 20:1
EN Abraham het daarvandaan weggetrek na die Suidland en gaan woon tussen Kades en Sur en in Gerar as vreemdeling vertoef.
Genesis 21:33
En hy het ’n tamarisk in Berséba geplant en daar die Naam van die HERE, die ewige God, aangeroep.
Josua 10:40
So het Josua dan die hele land verslaan, die Gebergte en die Suidland en die Laeveld en die Hange met al hulle konings sonder om iemand te laat oorbly wat vrygeraak het; en alles wat asemhaal, het hy met die banvloek getref, soos die HERE, die God van Israel, beveel het.
Josua 18:5
en dit onder mekaar in sewe dele verdeel: Juda moet sy gebied in die suide behou, en die huis van Josef moet sy gebied in die noorde behou.
1 Samuel 27:10
vra Agis: Waar het julle vandag ’n inval gedoen? Dan sê Dawid: In die Suidland van Juda en in die Suid-land van die Jeragmeëliete en in die Suidland van die Keniete.
2 Samuel 24:7
En hulle het gekom by die vesting Tirus en al die stede van die Hewiete en Kanaäniete, en hulle het uitgekom in die suide van Juda in Berséba.