En Abiméleg het Abraham laat roep en hom gevra: Wat het jy ons aangedoen? En wat het ek teen jou gesondig, dat jy oor my en my koninkryk ’n groot sonde gebring het? Dinge wat nie mag gebeur nie, het jy my aangedoen. Verder sê Abiméleg vir Abraham: Wat was jou bedoeling dat jy dit gedoen het?
En Abiméleg het Isak geroep en gesê: Kyk, sy is dan tog jou vrou! Hoe kon jy dan verklaar: Sy is my suster? En Isak antwoord hom: Ja, ek het gedink ek kan miskien om haar ontwil my lewe verloor! En Abiméleg sê: Wat het jy ons nou aangedoen? Hoe maklik kon een van die mense met jou vrou gemeenskap gehad en jy ’n skuld oor ons gebring het! Daarom gee Abiméleg bevel aan die hele volk en sê: Wie hierdie man of sy vrou aanraak, sal sekerlik gedood word.
Toe sê Josua vir Agan: My seun, maak tog die HERE, die God van Israel, heerlik en gee Hom die eer; en gee my tog te kenne wat jy gedoen het; steek dit nie vir my weg nie.
Daarop vra Saul vir Jónatan: Gee my tog te kenne wat jy gedoen het. En Jónatan het hom te kenne gegee en gesê: Ek het net ’n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was; hier is ek, ek sal sterwe.