Kruisverwysings → Genesis 11:7

Kom, laat Ons neerdaal en hulle taal daar verwar, sodat die een die taal van die ander nie kan verstaan nie.

laat Ons

Genesis 11:5
Toe daal die HERE neer om die stad en die toring te besien waaraan die mensekinders gebou het.
Genesis 1:26
En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.
Genesis 3:22
Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!
Jesaja 6:8
Daarop hoor ek die stem van die Here wat sê: Wie sal Ek stuur? En wie sal vir ons gaan? Toe antwoord ek: Hier is ek, stuur my.

taal daar verwar

Job 5:12-13
Hy wat die planne van listige mense verydel, sodat hulle hande niks kan uitrig wat standhou nie; wat die wyse manne vang in hulle listigheid, en die raad van die slinkse mense misluk van haastigheid.
Job 12:20
Hy neem die spraak van die betroubare mense weg en beroof die ou mense van hul oordeel.
Psalms 2:4
Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle.
Psalms 33:10
Die HERE vernietig die raad van die nasies, Hy verydel die gedagtes van die volke.
Handelinge 2:4-11
En hulle is almal vervul met die Heilige Gees en het begin spreek in ander tale, soos die Gees aan hulle gegee het om uit te spreek. En daar het in Jerusalem Jode gewoon, godsdienstige manne, uit elke nasie wat onder die hemel is. En toe hierdie geluid kom, het die menigte saamgestroom en was in die war, want elkeen het gehoor hoe hulle in sy eie taal spreek; en hulle was almal verbaas en verwonderd en sê vir mekaar: Is almal wat daar spreek, dan nie Galileërs nie? En hoe hoor ons hulle, elkeen in ons eie taal waarin ons gebore is? Parthers en Meders en Elamiete en die inwoners van Mesopotámië, Judéa en Kappadócië, Pontus en Asië, Frígië en Pamfílië, Egipte en die streke van Líbië by Ciréne, en Romeine wat hier vertoef, Jode en Jodegenote, Kretense en Arabiere — ons hoor hulle in ons eie taal oor die groot dade van God spreek.

nie kan verstaan nie

Genesis 10:5,20,32
uit hulle het verdeeld geraak die kuslande van die nasies, in hulle lande, elkeen na sy taal, volgens hulle geslagte, in hulle nasies. ... Dit was die seuns van Gam volgens hulle geslagte, na hulle tale, in hulle lande, in hulle nasies. ... Dit is die geslagte van die seuns van Noag volgens hulle afstamming, in hulle nasies; en uit hulle het die nasies op die aarde hulle verdeel ná die vloed.
Genesis 42:23
En hulle het nie geweet dat Josef dit verstaan nie, want daar was ’n tolk tussen hulle.
Deuteronómium 28:49
Die HERE sal teen jou ’n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos ’n arend vlieg—’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie,
Psalms 55:10
Verwar, Here, verdeel hulle spraak, want ek sien geweld en twis in die stad.
Jeremia 5:15
Kyk, Ek bring oor julle ’n nasie van ver af, o huis van Israel, spreek die HERE; ’n eeue-oue nasie is dit, ’n nasie van ouds af, ’n nasie waarvan jy die taal nie ken en jy nie verstaan wat hulle praat nie.
1 Korinthiërs 14:2-11,23
Want hy wat in ’n taal spreek, spreek nie tot mense nie, maar tot God; want niemand verstaan dit nie, maar deur die Gees spreek hy verborgenhede. Maar hy wat profeteer, spreek tot die mense woorde van stigting en troos en bemoediging. Hy wat in ’n taal spreek, stig homself; maar hy wat profeteer, stig die gemeente. Ek wens dat julle almal in tale spreek, maar nog liewer dat julle profeteer. Want hy wat profeteer, is groter as hy wat in tale spreek, of hy moet dit uitlê, sodat die gemeente stigting kan ontvang. Maar nou, broeders, as ek na julle kom en in tale spreek, tot watter nut sal ek vir julle wees as ek nie met julle spreek òf deur ’n openbaring, òf deur kennis, òf deur profesie, òf deur lering nie? Net soos met lewelose dinge wat ’n klank gee, ’n fluit of ’n siter, as hulle nie ’n onderskeid in toon laat hoor nie, hoe sal ’n mens weet wat op die fluit of siter gespeel word? Want as die basuin ook ’n onduidelike klank gee, wie sal klaarmaak vir die oorlog? Net so julle ook, as julle met die tong geen verstaanbare woord uitbring nie, hoe sal ’n mens weet wat gespreek word? Want julle sal wees soos mense wat in die wind praat. Daar is wie weet hoeveel soorte tale in die wêreld, en geeneen daarvan is sonder klank nie. As ek dan die betekenis van die klank nie ken nie, sal ek vir die spreker ’n vreemdeling wees, en die spreker sal vir my ’n vreemdeling wees. ... As die hele gemeente dan saam vergader het en hulle sou almal in tale spreek en daar kom onkundiges of ongelowiges binne, sal hulle nie sê dat julle kranksinnig is nie?