Die seuns van Sem was: Elam en Assur en Arpágsad en Lud en Aram en Us en Hul en Geter en Meseg. En Arpágsad was die vader van Selag, en Selag van Heber. En vir Heber is twee seuns gebore; die naam van die een was Peleg, want in sy dae het die aardbewoners verdeeld geraak; en sy broer se naam was Joktan. En Joktan was die vader van Almódad en Selef en Hasarmáwet en Jerag, en Hadóram en Usal en Dikla, en Ebal en Abímael en Skeba, en Ofir en Hawíla en Jobab. Hulle almal was seuns van Joktan. SEM, Arpágsad, Selag, Heber, Peleg, Rehu, Serug, Nahor, Tera, Abram; dit is Abraham.
EN in die dae van Ámrafel, die koning van Sínear, Aríog, die koning van Ellásar, Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies, het hulle oorlog gevoer teen Bera, die koning van Sodom, en teen Birsa, die koning van Gomorra, Síneab, die koning van Adma, en Seméber, die koning van Sebóim, en teen die koning van Bela, dit is Soar. Hulle het almal hulle leërs verenig in die laagte Siddim, dit is die Soutsee. Twaalf jaar lank het hulle Kedor-Laómer toe al gedien, maar in die dertiende jaar het hulle opstandig geword. Toe kom Kedor-Laómer in die veertiende jaar, en die konings wat saam met hom was, en hulle verslaan die Refaïete in Ásterot-Karnaim en die Susiete in Ham en die Emiete in die vlakte van Kirjatáim en die Horiete op hulle gebergte Seïr, tot by El-Paran wat aan die woestyn lê. Daarop het hulle omgedraai en by En-Mispat, dit is Kades, gekom en die hele land van die Amalekiete verower en ook die Amoriete wat in Háseson-Tamar woon. Toe trek die koning van Sodom uit en die koning van Gomorra en die koning van Adma en die koning van Sebóim en die koning van Bela, dit is Soar, en stel hulle in die laagte Siddim in slagorde teen hulle op, teen Kedor-Laómer, die koning van Elam, en Tídeal, die koning van die nasies, en Ámrafel, die koning van Sínear, en Aríog, die koning van Ellásar: vier konings teen vyf.
Pul, die koning van Assirië, het die land oorval, en Menáhem het aan Pul duisend talente silwer gegee, dat sy hande met hom sou wees om die koningskap in sy hand te versterk.
Terwyl dié een nog spreek, kom daar ’n ander een en sê: Die Chaldeërs het drie leërafdelings opgestel en ’n aanval op die kamele gemaak en dit weggeroof, maar hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.
En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see;
’n Harde gesig is my te kenne gegee: Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Médië! Aan alle gesug maak Ek ’n einde.
DIE woord van die HERE wat tot die profeet Jeremia gekom het oor Elam, in die begin van die regering van Sedekía, die koning van Juda, naamlik: So sê die HERE van die leërskare: Kyk, Ek verbreek die boog van Elam, die keur van hulle krag. En Ek sal vier winde uit die vier hoeke van die hemel oor Elam aanbring en sal hulle na al hierdie windstreke verstrooi; en daar sal geen nasie wees waar die verjaagdes van Elam nie sal kom nie. En Ek sal Elam verskrik voor hulle vyande en voor die wat hulle lewe soek, en Ek sal onheil oor hulle bring, die gloed van my toorn, spreek die HERE; en Ek sal die swaard agter hulle aan stuur totdat Ek hulle vernietig het. En Ek sal my troon in Elam vestig, en sal koning en vorste daaruit tot niet maak, spreek die HERE. Maar aan die einde van die dae sal Ek die lot van Elam verander, spreek die HERE.
En Ek sal ’n teken onder hulle doen, en vrygeraaktes uit hulle stuur na die nasies, na Tarsis, Pul en Lud, wat die boog span, na Tubal en Jawan, na die ver kuslande wat my tyding nie gehoor en my heerlikheid nie gesien het nie; en hulle sal my heerlikheid onder die nasies verkondig.
En hy het sy spreuk aangehef en gesê: Uit Aram laat Balak my haal, die koning van Moab—uit die berge van die Ooste: Kom vervloek Jakob vir my, en kom, verwens Israel.