En die gebied van die Kanaäniete was van Sidon af in die rigting vanGerar tot by Gasa, in die rigting vanSodom en Gomorra en Adma en Sebóim tot by Lesa.
Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan. En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE. En die HERE sê vir Abram nadat Lot van hom geskei het: Slaan tog jou oë op en kyk van die plek waar jy staan, na die noorde en suide, na die ooste en weste; want die hele land wat jy sien, sal Ek aan jou gee en aan jou nageslag tot in ewigheid. En Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde, sodat as iemand die stof van die aarde kan tel, jou nageslag ook getel kan word. Maak jou klaar, trek die land deur in sy lengte en sy breedte, want Ek sal dit aan jou gee.
Op dié dag het die HERE met Abram ’n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete en Hetiete en Feresiete en Refaïete en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.
Gee bevel aan die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land Kanaän kom, sal dit die land wees wat aan julle as erfdeel sal val; die land Kanaän volgens sy grense. Julle suidekant dan moet van die woestyn Sin af langs Edom wees; en julle suidelike grens moet aan die oostekant van die einde van die Soutsee af wees; en julle grens moet suid van Skerpioennek swaai en oorloop na Sin toe, totdat dit doodloop suid van Kades-Barnéa; dan moet dit aanloop na Hasar-Addar en oor na Asmon toe. Verder moet die grens swaai van Asmon af na die spruit van Egipte toe, sodat dit by die see doodloop. Aangaande die westelike grens, dit moet vir julle die Groot See saam met sy gebied wees; dit moet julle westelike grens wees. En dit moet julle noordelike grens wees: van die Groot See af moet julle jul grenslyn trek na die berg Hor. Van die berg Hor af moet julle die grenslyn trek tot by die ingang na Hamat; en die grens moet doodloop by Sedad. Dan moet die grens aanloop na Sifron toe, en dit moet doodloop by Hasar-Enan. Dit moet julle noordelike grens wees. Verder moet julle as jul oostelike grens die lyn trek van Hasar-Enan af na Sefam toe. En die grens moet afloop van Sefam af na Haribla toe, oos van Ajin; dan moet die grens afloop en skrams oor die hange van die meer Kinnéret gaan, aan die oostekant. Verder moet die grens afloop na die Jordaan totdat dit doodloop by die Soutsee. Dit moet vir julle die land wees volgens sy grense rondom. En Moses het aan die kinders van Israel bevel gegee en gesê: Dit is die land wat julle deur die lot as erfdeel sal verwerwe, wat die HERE beveel het om aan die nege stamme en aan die halwe stam te gee. Want die stam van die kinders van die Rubeniete volgens hulle families en die stam van die kinders van die Gadiete volgens hulle families en die halwe stam van Manasse het al ontvang—hulle het hul erfdeel ontvang. Die twee stamme en die halwe stam het hulle erfdeel aan die oostekant van die Jordaan van Jérigo, teen sonop, ontvang.
Toe die Allerhoogste aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel.
En dit is die konings van die land wat Josua en die kinders van Israel verslaan het, duskant die Jordaan na die weste toe: van Baäl-Gad in die laagte van die Líbanon af tot by die Kaal Berg wat oploop na Seïr toe; en Josua het dit as ’n besitting aan die stamme van Israel gegee volgens hulle afdelings — op die Gebergte en in die Laeveld en in die Vlakte en aan die hange en in die woestyn en in die Suidland: die Hetiete, Amoriete en Kanaäniete, die Feresiete, Hewiete en Jebusiete:
EN dit is wat die kinders van Israel as erfdeel in die land Kanaän ontvang het, wat Eleásar, die priester, en Josua, die seun van Nun, en die familiehoofde van die stamme van die kinders van Israel aan hulle as erfenis uitgedeel het deur verloting van hulle erfdeel, soos die HERE deur die diens van Moses beveel het, met betrekking tot die nege en ’n halwe stam. Want Moses het die erfdeel van die twee en ’n halwe stam oos van die Jordaan gegee, maar aan die Leviete het hy geen erfdeel onder hulle gegee nie. Want die kinders van Josef was twee stamme: Manasse en Efraim; maar aan die Leviete het hulle geen aandeel in die land gegee nie, behalwe stede om in te woon, met hulle weiveld vir hulle vee en hulle goed. Soos die HERE Moses beveel het, so het die kinders van Israel gedoen en die land verdeel. Toe het die kinders van Juda nader gekom na Josua in Gilgal, en Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, het vir hom gesê: U weet die woord wat die HERE met Moses, die man van God, in Kades-Barnéa gespreek het met betrekking tot my en met betrekking tot u. Veertig jaar was ek oud toe Moses, die kneg van die HERE, my uitgestuur het van Kades-Barnéa af om die land te verken, en ek het hom berig gebring soos dit in my hart was; maar my broers wat saam met my opgetrek het, het die hart van die volk laat versmelt, terwyl ek volgehou het om die HERE my God te volg. En dié dag het Moses gesweer en gesê: Waarlik, die land wat jou voet betree het, sal aan jou en aan jou kinders in ewigheid as ’n erfdeel behoort, omdat jy volgehou het om die HERE my God te volg. En nou, kyk, die HERE het my laat lewe, soos Hy gespreek het, nou al vyf-en-veertig jaar sedert die HERE hierdie woord met Moses gespreek het toe Israel in die woestyn getrek het; en kyk nou, ek is vandag vyf-en-tagtig jaar oud; ek is vandag nog so sterk soos die dag toe Moses my uitgestuur het; soos my krag toe was, so is my krag nou nog, om te veg en om uit te gaan en in te gaan. Gee my dan nou hierdie bergland waarvan die HERE daardie dag gespreek het; want u self het dié dag gehoor dat dáár Enakiete is en groot versterkte stede; miskien sal die HERE met my wees, sodat ek hulle kan verdrywe, soos die HERE gespreek het. Toe het Josua hom geseën en aan Kaleb, die seun van Jefúnne, Hebron as erfdeel gegee. Daarom het Hebron die erfdeel geword van Kaleb, die seun van Jefúnne, die Kenissiet, tot vandag toe, omdat hy volgehou het om die HERE, die God van Israel, te volg. En die naam van Hebron was tevore stad van Arba; hy was die grootste man onder die Enakiete. En die land het gerus van oorlog.
Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland.
EN daar was hongersnood in die land, buiten die eerste hongersnood wat in die dae van Abraham gewees het. Daarom het Isak getrek na Abiméleg, die koning van die Filistyne, na Gerar.
en die hele gemengde bevolking en al die konings van die land Us; en al die konings van die land van die Filistyne, en Áskelon en Gasa en Ekron en die oorblyfsel van Asdod;
Toe slaan Lot sy oë op en sien dat die hele Jordaanstreek oral volop water het; voordat die HERE Sodom en Gomorra verwoes het, was dit in die rigting van Soar soos die tuin van die HERE, soos Egipteland. En Lot het vir hom die hele Jordaanstreek gekies, en Lot het na die ooste getrek. So het hulle dan die een van die ander geskei. Abram het bly woon in die land Kanaän, en Lot het gaan woon in die stede van die Jordaanstreek en sy tente tot by Sodom opgeslaan. En die manne van Sodom was sleg en groot sondaars voor die HERE.
het hulle oorlog gevoer teen Bera, die koning van Sodom, en teen Birsa, die koning van Gomorra, Síneab, die koning van Adma, en Seméber, die koning van Sebóim, en teen die koning van Bela, dit is Soar.
En die HERE het swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën van die HERE uit die hemel, en Hy het hierdie stede omgekeer en die hele Jordaanstreek, ook al die inwoners van die stede en wat op die grond groei.
Hoe kan Ek jou oorgee, o Efraim, jou prysgee, o Israel? Hoe kan Ek jou maak soos Adma, jou gelykstel met Seboïm: my hart is omgekeer in My, tegelykertyd is my medelyde opgewek.