En die HERE het hulle in die hand van Israel gegee, sodat dié hulle verslaan en hulle agtervolg het tot by Groot-Sidon en tot by Mísrefot-Maim en tot by die laagte van Mispe teen die ooste; en hulle het hul verslaan totdat daar niemand van hulle was wat vrygeraak het nie.
Staan beskaamd, Sidon, want die see, die vesting van die see, spreek en sê: Ek het geen weë gehad en nie gebaar nie, en ek het geen jongmanne grootgemaak of jongedogters opgevoed nie.
Op dié dag het die HERE met Abram ’n verbond gesluit en gesê: Aan jou nageslag gee Ek hierdie land, van die rivier van Egipte af tot by die groot rivier, die Eufraatrivier: die Keniete en Kenissiete en Kadmoniete en Hetiete en Feresiete en Refaïete en Amoriete en Kanaäniete en Girgasiete en Jebusiete.
En mag God, die Almagtige, jou seën en jou vrugbaar maak en jou vermeerder, sodat jy ’n menigte van volke kan word. En mag Hy jou gee die seën van Abraham, aan jou en jou nageslag saam met jou, dat jy die land van jou vreemdelingskap in besit kan neem wat God aan Abraham gegee het. So het Isak Jakob dan weggestuur, en hy het na Paddan-Aram gegaan, na Laban, die seun van Bétuel, die Arameër, die broer van Rebekka, die moeder van Jakob en Esau. Toe Esau sien dat Isak Jakob geseën en hom na Paddan-Aram weggestuur het om daar vir hom ’n vrou te gaan haal, terwyl hy hom geseën en hom bevel gegee het met die woorde: Jy mag geen vrou uit die dogters van Kanaän neem nie; en dat Jakob na sy vader en sy moeder geluister het om na Paddan-Aram te gaan; en toe Esau sien dat die dogters van Kanaän sleg was in die oë van sy vader Isak, het Esau na Ismael gegaan en Máhalat, die dogter van Ismael, die seun van Abraham, die suster van Nébajot, by sy vroue vir hom as vrou geneem. En Jakob het uit Berséba vertrek en na Haran gegaan. Daarop kom hy by ’n plek waar hy die nag oorgebly het, want die son was al onder. En hy neem een van die klippe van die plek en sit dit onder sy hoof, en hy gaan lê en slaap op dié plek. En hy het gedroom—daar is ’n leer op die aarde opgerig waarvan die spits tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het. En kyk, die HERE het bo-aan gestaan en gesê: Ek is die HERE, die God van jou vader Abraham en die God van Isak. Die land waar jy op lê en slaap, sal Ek aan jou en jou nageslag gee; en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word. En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, en Ek sal jou terugbring in hierdie land; want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het. Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ’n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel. Toe staan Jakob die môre vroeg op en neem die klip wat hy onder sy hoof gesit het, en rig dit as ’n gedenksteen op; en hy het olie daaroor uitgegiet. En hy het die plek Bet-el genoem; maar die naam van die stad was tevore Lus. En Jakob het ’n gelofte gedoen en gesê: As God met my sal wees om my te bewaar op hierdie weg wat ek gaan, en aan my brood sal gee om te eet en klere om aan te trek,
Daarom het Ek neergedaal om hulle uit die hand van die Egiptenaars te verlos en hulle te laat optrek uit daardie land na ’n goeie en wye land, na ’n land wat oorloop van melk en heuning, na die woonplek van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete.
Gee bevel aan die kinders van Israel en sê vir hulle: As julle in die land Kanaän kom, sal dit die land wees wat aan julle as erfdeel sal val; die land Kanaän volgens sy grense. Julle suidekant dan moet van die woestyn Sin af langs Edom wees; en julle suidelike grens moet aan die oostekant van die einde van die Soutsee af wees; en julle grens moet suid van Skerpioennek swaai en oorloop na Sin toe, totdat dit doodloop suid van Kades-Barnéa; dan moet dit aanloop na Hasar-Addar en oor na Asmon toe. Verder moet die grens swaai van Asmon af na die spruit van Egipte toe, sodat dit by die see doodloop. Aangaande die westelike grens, dit moet vir julle die Groot See saam met sy gebied wees; dit moet julle westelike grens wees. En dit moet julle noordelike grens wees: van die Groot See af moet julle jul grenslyn trek na die berg Hor. Van die berg Hor af moet julle die grenslyn trek tot by die ingang na Hamat; en die grens moet doodloop by Sedad. Dan moet die grens aanloop na Sifron toe, en dit moet doodloop by Hasar-Enan. Dit moet julle noordelike grens wees. Verder moet julle as jul oostelike grens die lyn trek van Hasar-Enan af na Sefam toe. En die grens moet afloop van Sefam af na Haribla toe, oos van Ajin; dan moet die grens afloop en skrams oor die hange van die meer Kinnéret gaan, aan die oostekant. Verder moet die grens afloop na die Jordaan totdat dit doodloop by die Soutsee. Dit moet vir julle die land wees volgens sy grense rondom. En Moses het aan die kinders van Israel bevel gegee en gesê: Dit is die land wat julle deur die lot as erfdeel sal verwerwe, wat die HERE beveel het om aan die nege stamme en aan die halwe stam te gee. Want die stam van die kinders van die Rubeniete volgens hulle families en die stam van die kinders van die Gadiete volgens hulle families en die halwe stam van Manasse het al ontvang—hulle het hul erfdeel ontvang. Die twee stamme en die halwe stam het hulle erfdeel aan die oostekant van die Jordaan van Jérigo, teen sonop, ontvang.
op die Gebergte en in die Laeveld en in die Vlakte en aan die hange en in die woestyn en in die Suidland: die Hetiete, Amoriete en Kanaäniete, die Feresiete, Hewiete en Jebusiete: die koning van Jérigo, een; die koning van Ai wat langsaan Bet-el lê, een; die koning van Jerusalem, een; die koning van Hebron, een; die koning van Jarmut, een; die koning van Lagis, een; die koning van Eglon, een; die koning van Geser, een; die koning van Debir, een; die koning van Geder, een; die koning van Horma, een; die koning van Arad, een; die koning van Libna, een; die koning van Adúllam, een; die koning van Makkéda, een; die koning van Bet-el, een; die koning van Tappúag, een; die koning van Hefer, een; die koning van Afek, een; die koning van Lassáron, een; die koning van Madon, een; die koning van Hasor, een; die koning van Simron-Meron, een; die koning van Agsaf, een; die koning van Táänag, een; die koning van Megíddo, een; die koning van Kedes, een; die koning van Jókneam, by die Karmel, een; die koning van Dor, op die hoëveld van Dor, een; die koning van die heidene by Gilgal, een; die koning van Tirsa, een—al die konings saam, een-en-dertig.